Vier sterf in helikopterongeluk in Pakistan

(Foto: @WPCPSFION/Twitter)

ʼn Weermaghelikopter het in die bergagtige noorde van Pakistan neergestort. Vier soldate, insluitend die twee vlieëniers, is oorlede, het die weermag gesê.

Die helikopter het Saterdag in die Gilgit-Baltistan-streek neergestort “weens tegniese redes” terwyl die liggaam van ʼn soldaat na die weermaghospitaal in Skardu vervoer is, lui ʼn verklaring.

Pakistan het ʼn berugte weermag- en privaat lugvaartrekord, met gereelde vliegtuig- en helikopterongelukke oor die jare heen.

Pakistan International Airlines (PIA) het vroeër vanjaar onder skoot gekom nadat een van sy vliegtuie tussen huise in Karachi neergestort het. Minstens 98 persone is oorlede.

In Augustus 2015 is 12 persone dood toe ʼn weermaghelikopter in die noordweste van die land neergestort het. In Mei 2015 het ʼn Mi-17-weermaghelikopter by ʼn vakansieoord in Gilgit neergestort. Sewe persone, insluitend twee ambassadeurs, is oorlede.

Gilgit-Baltistan, bekend vir sy uitsonderlike bergreekse, is ʼn strategies belangrike outonome streek op die grens van China, Afghanistan en Kasjmir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.