Vier sterf in rekord oorstromings in Auckland

Vloede in Auckland, Nieu-Seeland. (Foto: Twitter)

Vier mense is dood ná rekord reënneerslae oor Auckland in Nieu-Seeland.

Soveel as 249 mm reën het Vrydag oor Nieu-Seeland uitgesak en die stad se vorige rekord van 161 mm reën in 24 uur verpletter.

ʼn Noodtoestand is weens die reën vir die stad se 1,6 miljoen inwoners afgekondig.

Die Nieu-Seelandse polisie sê twee liggame is Vrydagaand in vloedwater op afsonderlike plekke in die noordelike voorstad van Wairau Valley gevind voordat ʼn derde liggaam Saterdag gevind is. Dié persoon is dood toe ʼn grondstorting ʼn huis in die sentrale deel van Auckland vernietig het.

ʼn Hommeltuigoperateur het intussen Sondag ʼn vierde liggaam, dié van ʼn man, ontdek sowat ʼn kilometer van waar hy Vrydag deur vloedwater by Onewhero, suid van Auckland, meegesleur is.

‘n Oorstroomde supermark in Auckland, Nieu-Seeland. (Foto: Twitter)

“Die oorstromingsituasie is ʼn traumatiese ervaring vir almal in Auckland,” het Carmel Sepuloni, Nieu-Seeland se adjunk-premier, Sondag tydens ʼn perskonferensie in die stad gesê.

“Die verskriklikste deel daarvan is dat ons lewens verloor het… ons deel ons meegevoel en hartseer met diegene se familie.”

Ongeveer 24 000 huishoudings in Auckland was Vrydag sonder krag, aldus Michael Wood, die Nieu-Seelandse minister van vervoer en ʼn parlementslid vir die Wes-Auckland-voorstad Kelston.

Die lughawe in Nieu-Seeland het ook oorstroom. (Foto: Twitter)

Teen Sondag moes ongeveer 3 000 van dié huishoudings nog sonder elektrisiteit klaarkom. ʼn Aantal huishoudings het ook nog nie water in hul krane nie.

Vrydag se rekord reën het boonop die terminale by die Auckland-lughawe oorstroom. Die terminale moes noodgedwonge gesluit word en internasionale vlugte kon eers Sondag hervat word.

Sir Elton John was gevolglik genoop om konserte in Auckland Vrydag en Saterdag – deel van sy afskeidstoer – te kanselleer met die oog op skareveiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Verwys jy nou na die “contrails” sameswerings stories?

Katinka ·

Ek laat eerder ‘n oorstroming in Auckland my dood veroorsaak, voordat ek deur ‘n krimineel doodgeskiet word, gemartel, en my vrou dalk verkrag word. Maak nie saak wat nie, ek sal enige tyd eerder daar wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.