Minstens vier mense is dood en talle beseer, toe ʼn man glo Vrydag opsetlik met ʼn gesteelde motor in ʼn groep voetgangers by ʼn winkelsentrum in Melbourne, Australië, ingeploeg het.
“ʼn Man het opsetlik in die groep voetgangers by die Bourke Street Mall ingery,” het Stuart Bateson, waarnemende bevelvoerder, aan The Guardian gesê.
Volgens die Victoria-polisie is vier mense dood en 20 beseer. Die bestuurder is kort daarna, omstreeks 13:30 (Australiese tyd) in hegtenis geneem.
Plaaslike media het die man as Dimitrious Gargasoulas (26) geïdentifiseer. Gargasoulas is glo verlede naweek op borgtog vrygelaat nadat hy op aanklag van aanranding in hegtenis geneem is.
Gargasoulas is geskiet voordat hy Vrydag weer in hegtenis geneem is. Hy is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal onder polisiebewaking.
Die polisie het beklemtoon dit was nie ʼn terreur-aanval soos wat wyd bespiegel word nie.