Vier vas ná ‘barbaarse terreuraanval’ in Moskou – Poetin

Die Russiese president Wladimir Poetin (Foto: Mikhail Klimentyev / SPUTNIK / AFP)

Die Russiese president, Wladimir Poetin, sê al vier vermeende aanvallers is in hegtenis geneem in verband met Vrydagaand se “barbaarse terreuraanval” in Moskou.

Volgens Poetin is die vermeende aanvallers in hegtenis geneem nadat hulle na Oekraïne probeer vlug het.

Daar kon intussen op Russiese televisie gesien word hoe veiligheidsdiensbeamptes vier bebloede mans, wat Russies met ’n aksent praat, op ’n pad in die westelike Bryansk-streek, wat aan Oekraïne en Wit-Rusland grens, ondervra.

“Terroriste, moordenaars, nie-mense … het net een onbenydenswaardige lot: vergelding en vergetelheid,” het Poetin Saterdag in ’n televisietoespraak gesê.

Poetin het die aanval as ’n “barbaarse terreurdaad” bestempel en gesê “al vier oortreders … almal wat mense doodgeskiet het”, is gevind en word aangehou.

Medelye stroom in sedert Vrydagaand se aanval in Moskou. (Foto: Ozan KOSE / AFP)

“Hulle het probeer ontsnap en was op pad na Oekraïne, waar, volgens voorlopige data, ’n venster vir hulle aan die Oekraïense kant voorberei is om die staatsgrens oor te steek,” het Poetin tydens sy televisietoespraak gesê.

Oekraïne ontken egter enige betrokkenheid by die aanval. Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, beskuldig eerder Poetin daarvan dat hy probeer om die skuld op hulle te pak.

“Wat gister in Moskou gebeur het, is duidelik,” het Zelenski gesê. “Poetin en die ander skuim probeer dit net op iemand anders blameer.”

Minstens 133 mense is dood en meer as 140 beseer toe vier aanvallers geklee in kamoefleerdrag die Crocus City-konsertsaal in Moskou se noordelik Krasnogorsk-buurt binnegegaan, losgebrand en daarna brandbomme gegooi het.

Die aanval word bestempel as die dodelikste aanval nóg in Rusland in byna twee dekades.

Die Islamitiese Staat-groep het op Telegram gesê die aanval is “uitgevoer deur vier IS-vegters gewapen met masjiengewere, ’n pistool, messe en brandbomme” as deel van “die oorlog wat voortwoed teen lande wat Islam beveg”.

Sondag is sedertdien tot ’n nasionale dag van rou in Rusland verklaar.

Motors ry verby ‘n advertensieskerm op die fasade van ‘n gebou wat ‘n beeld van ‘n aangesteekte kers en die slagspreuk “Ons rou 22.03.24” in Moskou vertoon (Foto: STRINGER / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adriana ·

Praat die een wat die grootste kommunis is en presies dit wat nou daar plaasgevind het teen Okraiëne doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.