Vier vas ná lugballon-ongeluk wat een eis

Argieffoto

Egiptiese owerhede het vier persone in hegtenis geneem nadat ʼn warmlugballon-ongeluk naby Luxor in die suide van dié land die lewe van minstens een persoon geëis het.

Maroela Media het vroeër berig die ballon het ʼn besigtigingstoer met buitelandse toeriste onderneem toe dit in die suidelike deel van die land geval het. Beamptes het gesê sterk wind het veroorsaak dat die ballon bokant die stad se farao-tempels en grafte van koers af gedwing is voordat dit geval het.

Volgens ʼn verklaring is die vier persone wat in hegtenis geneem is die vlieënier, die bestuurder van die maatskappy wat pretritte verkoop en die twee eienaars aan wie die lugballon behoort.

Ayman Walash, ʼn woordvoerder van die Egiptiese ambassade in Pretoria, het Saterdag gesê die Egiptiese ambassade het aanvanklik foutiewe inligting oor dié ongeluk oorgedra.

Walash het gesê ʼn 32-jarige Suid-Afrikaanse man het in die ongeluk gesterf en nié ʼn SA vrou soos daar voorheen berig is nie. Twee Suid-Afrikaanse vroue is egter onder die 12 beseerdes wat ook toeriste van Frankryk, Australië, Argentinië en Brasilië insluit.

“Die vier persone is in hegtenis geneem sodat die saak ondersoek kan word en sodat die polisie presies kan uitpluis wat tot die ongeluk gelei het,” lui die verklaring.

Dit is nie die eerste keer dat mense in ʼn warmlugballon-ongeluk in Luxor sterf nie. In 2013 het 19 buitelandse toeriste gesterf toe hul lugballon aan die brand geslaan het.

In 2016 het Egipte tydelik lugballonvlugte opgeskort toe 22 Chinese toeriste geringe beserings opgedoen het toe die lugballon waarin hulle was, geval het. Sedertdien word lugballonvlugte deur kameras gemonitor en is lugballonne verbied om hoër as 2 000 m te styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LB S ·

2 000 meter is nog te hoog vir my, dankie. Ek bly maar met my voete plat op die aarde!

Cherokee ·

LBS, seker sal dit nie verskil maak in jou mening oor hoogte nie maar waarskynlik word van hoogte bo seespieël gepraat en nie bo die grond nie. met verwysing na die 2000 m.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.