Vier wat organe van dieselfde skenker ontvang kry kanker

Argieffoto (Pixabay)

Vier mense het borskanker opgedoen nadat hulle organe van dieselfde skenker ontvang het.

Dié geval het in ʼn mediese verslag van prof. Frederike Bemelman van die departement Nefrologie aan die Universiteit van Amsterdam aan die lig gekom.

Luidens die verslag het al vier pasiënte kanker opgedoen nadat hulle orgaanoorplantings ondergaan het. Drie van die pasiënte het gesterf.

CNN berig Bemelman het gesê dié is ʼn “uiters skaars” geval en die eerste wat sy in haar 20 jaar in die veld van oorplantingsimmunologie teëgekom het.

Volgens die berig het die 53-jarige skenker geen bekende mediese toestande gehad nie en was die kwaadaardigheid nie bekend toe haar niere, longe, lewer en hart vir oorplanting gebruik is nie. Sy het in 2007 weens ʼn beroerte gesterf.

As deel van die standaard siftingsproses is ʼn volledige fisieke ondersoek gedoen, insluitend ʼn borsondersoek en skanderings van die maag en hart, maar geen kwaadaardigheid is waargeneem nie.

Science Alert berig vyf mense het almal ʼn orgaan van die skenker ontvang – onderskeidelik haar linkernier, regternier, longe, lewer en hart. Die pasiënt wat die hart ontvang het, is vyf maande later aan sepsis dood (wat nie met kanker verband hou nie).

In Augustus 2008, 16 maande ná die oorplanting, het die eerste orgaanontvanger siek geword.

Al vier ontvangers van die organe is later met kanker gediagnoseer.

Drie van die ontvangers van die organe het gesterf toe die kanker na ander dele van die liggaam versprei het. Die vierde kankerlyer het oorleef ná ʼn reeks behandelings insluitend verwydering van die skenkernier, immuunonderdrukking-medikasie en chemoterapie.

DNS-toetse het getoon dat die kankerselle van die orgaanskenker afkomstig was.

CNN berig Bemelman het in haar verslag beklemtoon wanneer skenker-afgeleide kanker ontstaan, is dit raadsaam om die skenkerorgaan te verwyder. “Dit stel die pasiënt in staat om die immuunonderdrukkingsmedikasie te staak, sodat die immuunstelsel kan herstel en teen die tumorselle kan baklei,” het sy verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ek dink anders ·

Ek is 100% teen orgaanskenking .. daar is 4 mense se lewens geneem omdat die medici nie seker gemaak het dat die skenker niks makeer het nie . ek is jammer, ek dink die prosesse gaan te vinnig en hulle is te haastig om die organe oor te plant, dat daar sulke glipsies gebeur .. Persoonlik glo ek elke mens is met een stel van alles gebore en as dit gaan, dan gaan jy ook .. ek dink anders .. so respekteer my siening.

Bob ·

En die seuntjie van 7jr oud wat vir die eerste keer kon sien na oorplanting.?? Sou jy vir hom ook se dat hy jou siening moet “respekteer” ???????

CdK ·

Jammer, maar ek stem nie saam. Die ontvangers was siek en sou sonder die skenkings gesterf het. Ja, ongelukkig het hulle kanker gekry, maar daar is deur die skenkerorgane jare toegevoeg aan hulle lewens. Die volledige verhaal is hier in Nederland op die nuus gewees. Al 4 persone (3 vroue en 1 man) het borskanker gekry. Die man het oorleef. Daar was geen indikasie dat daar kanker teenwoordig was in die donor se weefsel of bloed nie. Volgens die verslag van RTL Nieuws is die kans dat so iets kan gebeur slegs 0,05%. Die siftingsproses is baie deeglik hier in NL.

GM ·

Daar is so ‘n tipe geval op ‘Bones’ ook – [Die TV-reeks wat losweg gebaseer is op die lewe van Kathy Reichs (Forensiese Antropoloog)]. In haar geval was die ‘culprit’ ‘bone grafts’. Ek dink sulke gevalle gebeur meer as wat mens dink, veral as organe van die swartmark af verkry is.

Theresa ·

Dis vreeslik tragies. Persoon het gedink sy gaan mense ‘n nuwe kans op lewe gee…

Anoniem ·

Wel, sover ek weet is mense wat organe ontvang uiters siek en kan enige oomblik sterf. Haar organe het hul almal nog ‘n paar maanse/jare ekstra gegee, of hul nou later dood is of nie. Iewers gaan mens dood.

Cornette ·

Klink soos iets uit HOUSE ND se reels wat op FOX uitgesaai was. Daar was ook so episode gewees.

Blommie ·

Ek voel bitter jammer vir die gesinne wat deur ‘n dubbel trauma is en kan net vir hulle bid. Onthou die mens wik maar GOD beskik of jy nou dodelike siek is, en n oorplanting kry kan jy nog steeds NIE jou lewe verleng daardeur NIE. Jou tyd word bepaal nog voor jou geboorte.

Oop oge ·

Inderdaad Blommie,
Onse lewens is vasgele soos ‘n musiekstuk op ‘n band (vynel LP of MP3)
Jou lewe kan net “speel” soos God dit bepaal het en stop waar hy moet.
Al jou ups en downs is daarin vervat en so word jou “musiekstuk” jou getuienis en nalatingskap op aarde. Jy word dus ook geken aan jou “label” van oorsprong…

Sanet ·

Ek was 9 maande oud toe my pa alby sy niere verloor, hyt nie gedrink of rook nie en was maar 31 jaar oud!! 12 jaar het ek geleef in vrees dat hy sal sterf. Danksy n skenker was hy vir 3 jaar langer by ons en is oorlede toe ek 15 is an gangereen wat nie verband gehou het met die oorplanting nie. Gan google Nicholas gift of kyk die fliek dalk sal julle kan verstaan wat dit vir ons beteken! Dankie aan die wat julle geliefdes skenk vir ons om ons geliefdes langer te kan he.

skenker ·

ek is self ‘n skenker. maar glo eerder dat my organe iemand gaan help om ‘n beter lewens-kwaliteit te hê as om jare toe te voeg by sy lewe. Die Here het die dag toe jy geskape is, geweet watter dag jy sal terugkeur na Hom, met of sonder skenker organe. dankie vir almal wat skenkers is. want dit help baie mense se lewenskwalteit verbeter!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.