Vierjarige gaan ry met ma se kar

‘n Beampte by die vierjarige (Foto: politie_utrechtnoord/Instagram)

ʼn Vierjarige seun in Nederland het met sy ma se motor gaan ry voor hy teen twee stilstaande voertuie gebots het, het polisie Sondag gesê.

Die polisie in Utrecht is Saterdag ontbied toe inwoners die kind buite sien loop het – kaalvoet en slegs geklee in nagklere.

“Ons het dadelik reageer omdat omstanders bekommerd was dat hy dalk kan verkluim,” het die polisie op Instagram gesê.

Met hul aankoms op die toneel het beamptes ʼn tweede berig ontvang van ʼn motorongeluk van drie motors daar naby. Die bestuurder wat vermoedelik die ongeluk veroorsaak het, was skoonveld.

Verdere ondersoek het bevestig dat die motor, wat die ongeluk veroorsaak het, aan die ma van die seuntjie behoort. Hulle het haar gekontak en toe sy met haar seun oor die telefoon gesels, het hy klanke gemaak soos ʼn motor en sy arms en hande geswaai asof hy ʼn motor bestuur.

“Dis toe dat ons besef hy het waarskynlik met die motor gery.”

Ná ʼn warm sjokolade by die polisiestasie en bietjie troos van ʼn teddiebeer, is die seun met sy ma herenig.

Hulle is saam na die ongelukstoneel waar die seun die sleutels gevat, ingeklim, die motor aangeskakel en die petrolpedaal getrap het.

Die seun het waarskynlik wakker geword toe sy pa werk toe is en sy ma se sleutels gevat “om bietjie te gaan ry”, sê die polisie.

Die ma het aan die polisie gesê hy is “ʼn vernuftige seuntjie”. Die polisie het die ouers gewaarsku om die motorsleutels in die toekoms weg te steek.

“Nuwe Max Verstappen in Overvecht [woonbuurt in Utrecht] gevind,” het die polisie op sosiale media gesê, met verwysing na die gewilde en huidige Nederlandse wêreldkampioen F1-renjaer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Hy het baie beter gevaar as hope motoriste “suid van die Sahara”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.