Vierjarige skiet glo op polisie by McDonalds

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Amerikaanse man is in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn vierjarige kind aangesê het om op polisiebeamptes te skiet. ʼn Beampte kon net betyds die vuurwapen by die kind wegklap terwyl ʼn skoot afgevuur is.

Die beampte het ʼn “geringe wond” aan sy arm opgedoen.

Die voorval het hom Maandag by ’n McDonalds-kitskosrestaurant in die Amerikaanse deelstaat Utah afgespeel nadat Sadaat Johnson (27) glo die verkeerde kosbestelling by die deurrytoonbank van die restaurant in Midvale buite Salt Lake City ontvang het.

CBS News berig Johnson het ’n vuurwapen uitgepluk en op werknemers van die McDonalds gerig. Die personeel het hom gevra om na die voorkant van die restaurant te ry terwyl hulle die korrekte bestelling vir hom gereed sou kry.

Die werknemers het toe van die geleentheid gebruik gemaak om die polisie te ontbied. Polisiebeamptes het Johnson by hul aankoms beveel om uit sy motor te klim. Hy het geweier.

Die polisiebeamptes het Johnson uit sy motor gehaal en was besig om hom in hegtenis te neem, toe een van die beamptes ’n vuurwapen en ’n kind se arm by die agterruit sien uitsteek.

Johnson se kind – wat saam met ’n driejarige kind op die agterste sitplek van die motor gesit het –  het ’n skoot op die polisiebeampte afgevuur, maar dié kon die vuurwapen net betyds wegklap. Die koeël is opwaarts gedwing en het die afdak van die restaurant getref, berig die New York Post.

Die polisiebeampte is in die proses in die arm gewond.

“Inligting wat tydens die voortslepende ondersoek ingesamel is, dui daarop dat die pa van die kind die kind aangesê het om op die polisie te skiet,” sê die polisiedepartement van die Groter-Salt Lake-omgewing.

“Hierdie veldtog teen polisiebeamptes moet ʼn einde kry. Ons is hier om te beskerm en te dien en dit ruk handuit,” het sheriff Rosie Rivera gesê. “Dit is ʼn kind wat gedink het dit is oukei om ʼn vuurwapen uit te haal en daardie vuurwapen op die polisie af te vuur. Ek het nog nooit so iets in my 28 jaar [in die polisiemag] gesien nie.”

Johnson is in hegtenis geneem en staan ​​tereg op aanklag van kindermishandeling en dreig met die gebruik van ʼn gevaarlike wapen, berig Fox 13.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Jy maak effe van ‘n voetfout deur te aanvaar dat almal in Utah Mormone is. Sadaat Johnson is beslis nié een nie.

JohanR ·

Daai Amerikaaners darem. Hulle kan leef met enigiets, maar moenie dat daai kos bestelling verkeerd wees dan kom die 15 geweere uit!

efjy ·

Waartoe gaan daardie kind nie later in sy lewe as skolier of student wees nie.

Misky ·

Wys net watse opvoeding daai kind kry as hy op so jong ouderdom sulke opdragte uitvoer. Skokkend!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.