Vierjarige sterf toe sy vuurwapen in handsak vind

Yanelly Zoller. Foto: www.youcaring.com

ʼn Vierjarige dogtertjie van Tampa in die Amerikaanse deelstaat Florida is dood nadat sy op soek was na lekkergoed in haar ouma se handsak en ʼn vuurwapen in die handsak gevind het.

Fox News berig Yanelly Zoller het die vuurwapen in die handsak gekry, per ongeluk die sneller getrek en haarself in die bors gewond. Sy het op die toneel gesterf.

Volgens die nuusagentskap was Yanelly se grootouers, Michel en Christie Zoller, albei tuis ten tyde van die voorval. Die polisie ondersoek die voorval, maar sê geen vuilspel word vermoed nie. CBS News berig die vuurwapen was gelisensieerd.

Yanelly Zoller. Foto: www.youcaring.com

Shane Zoller (22), Yanelly se pa, het aan The Tampa Bay Times gesê hy was op pad om sy dogter by sy ouers se huis te gaan oplaai toe hy polisievoertuie buite die huis gesien het. “Nelly was baie naby aan hulle en het so opgewonde geraak as sy by haar ouma se huis kon gaan kuier. Sy was aan haar ouma se heup geheg,” het Zoller gesê. “Sy wou net lekkergoed gehad het.”

Zoller het toesig van Yanelly met haar ma gedeel.

Intussen is ʼn skarebefondsingsinisiatief op die GoFundMe-webtuiste van stapel gestuur om geld in te samel vir Yanelly se begrafnis en ander onkoste. Teen Vrydag is $2 440 (ongeveer R32 000) vir die gesin ingesamel.

Op die You Caring-webtuiste het ʼn huldeblyk aan Yonelly gelui dat die nagmerrie die familie met talle onbeantwoorde vrae agterlaat. “Die enigste antwoord wat halfpad sin maak is dat die hemel nog ʼn engel nodig gehad het. Haar ster skyn helder. Ons pragtige engel is deur ʼn fratsongeluk weggeneem, iets wat moeilik is om oor te praat. Haar lewe was kort, maar haar skoonheid en betowering sal vir ewig voortleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Voorlaaier ·

Ek verstaan ni…wat se onbeandwoorde vra?……Die kind het lekkers gesoek,op di vuurwapen afgekom en per ongeluk di sneller getrek…….enigste vraag wat hieruit voortspruit is “waarom was di wapen nie veilig toe gesluit nie?..

jan van riebeeck ·

want die ouma bly dalk in n gervaarlike area , n vuurwapen in n kluis beteken niks , soos ons duidelik sien in die talle vermoorde plaasboer lokaal , ek hou ook nie van die idee dat n vrou haar vuurwapen in haar handsak dra nie maar amerikaners word woedend as die staat probeer om wette daarteen te maak , en siende dit hulle land is kan hulle maak soos hulle wil ongeag van wat ek of jy daarvan dink

Verbaas ·

N vuurwapen wat in ‘n kluis toegesluit is, is ‘n ronde nul op n kontrak. Ongelukkig gebeur daar soms ‘n ongeluk, maar dis ‘n druppel in die emmer teenoor mense wat vermoor word juis omdat hul wapen toegesluit is. Maar dit is nogsteeds hartseer, pragtige kind haar lewe so verloor het.

Cherokee ·

Dankie oom Jan, vir ‘n netjiese antwoord.
Sy was 4 jaar oud… pragtige meisiekind. Indien dit ‘n pistool was, was dit waarskynlik met ‘n koeël in die loop maar en dit is maklik om die veiligheidsknippie af te druk. Dit kon ook ‘n rewolwer gewees het wat bloot die trek van die sneller gekort het om die tragedie te veroorsaak. Sy was slegs 4 jaar oud.

Ek was al op skool. Moes agt jaar of ouer gewees het toe ek my stiefpa se gaspistool geneem het en gewonder het wat gebeur binne dit as die sneller getrek word. Enigste manier om uit te vind, is om dit te doen. Gaaf, sit dit eers op ‘safe’. Daar was nie veilig of safe geskryf maar daar was ‘n rooi kol. So, die rooi kol beteken seker ‘safe’!

Gelukkig werk gaspistole met ‘blanks’. (haai, wat is blank in Afrikaans?) Nevermaaind, ek het weke (miskien maande) geloop met ‘n oogklap nadat die huisarts die kruit uit my oog gehaal het, maar eendag op skool het ek die klap afgehaal en gekyk na 2 kolletjies op my lessenaar en geweet dit is eintlik een en toe hardloop die twee kolletjies inmekaar ek my fokus was weer reg!

Sy was slegs 4. Pragtige meisiekind. Ek hoop die mense betrokke kan dit verwerk want verwyte moet nie geopper word wanneer nie van pas.

Skybird ·

Dis tragies! Kinders is nuuskierig en “explore” alles. Al het jy nie vuurwapens in jou huis nie, moet almal nog steeds bewus gemaak word oor die gevare en hantering van vuurwapens , selfs speelgoed wapens ook.

Jodi ·

Hoekom moet mense se God het n engel nodig gehad God vat nie lewe Hy gee lewe.jeremia 29.11

Frank ·

Baie jammer vir die gesin.. Ja Hy gee EWIGE lewe!!! Jou lewe op aarde is n druppel teen die gewaarborgde ewige lewe!!! Dis maar net die kwessie van warm ewige lewe of Hemel

LB ·

Wat ‘n hartseer berig. ek het soveel simpatie met die mense. Ek was anderdag by vriende aan huis. Hul kinders het vrye toegang tot alles. Van ma se duur donkerbril, haar selfoon, die kamera met ‘n lang duur lens, die knoppies van elke elektroniese toestel word gedruk en ek raak gespanne,..niemand vind dit vreemd nie?? Moet kinders nie perke leer nie? of werk dit nou anders vandat kinders nie meer ‘n klappie op die boud mag kry nie?Jy vat nie aan iemand se handsak nie, jy trek nie elke laai oop nie, krap nie in kaste nie en sekere artikels is taboe want dit kan maklik breek en is nie speelgoed nie. Nie omdat dit net ‘n stuurse reël is nie, dit voorkom dat kinders ongelukke kry of bv sterk pille inkry wat buite bereik geplaas was. Ons was ‘n groot gesin maar daar was duidelike huisreëls wat nagekom was en ook in winkels het ons niks gevat of voor gevra nie en het vandag nog respek vir ander se goed asook my eie en waardeer wat ek het.

Hendrik ·

Lyk my mense verstaan nie mooi nie. In SA moet jou vuurwapen of onder jou direkte beheer wees (in die geval het die ouma in die VSA nagelaat om dit te doen) of in die kluis toegesluit wees. In die VSA wissel die bietjie regulasies wat daar is tussen state, maar sovêr ek weet het geen staat n regulasie dat wapens weggesluit moet word nie. Die ironie is dat SA n goeie wet het wat swak geadministeer word. Die VSA kan baie by SA leer oor n goeie wet, en SA kan baie by die VSA leer oor goeie staatsdiens administrasie. Maar helaas, Amerikaners leer nie graag by ander lande nie.

Annatjie Kruger ·

Hier is iets wat universeël behoort te wees, ongeag waar jy in die wêreld bly.. ‘n Mens laat nie ‘n kind krap in plekke waar gevaarlike wapens is nie, hetsy ‘n kas, ‘n handsak of ‘n kluis. Ja ‘n wapen is niks werd in ‘n kluis, maar as jy dit dan in jou handsak ronddraai, moenie jou kind toelaat om daarin te krap nie.

Boet Fasie ·

Probleem is dat sommige kinders groot gemaak word sonder goeie huisreels en respek. Hoeveel keer sien jy nie kinders in grootmense se geselskap wat die geselskap oorneem nie. Baie kinders krap ook in die teenwoordigheid van hulle ouers in ander mense se kaste, selfone ens. en dit word deur die ouer toegelaat, want die kind doen dit by die huis ook.Kyk maar by winkelsentrums hoe kinders harder koop as hulle ouers en as hulle nie hulle sin kry nie dan gooi hulle ‘n vloermoer erger as die ANC en EFF in die parlement.

susan ·

Julle is darem wys! ‘n Kindtjie is oorlede en julle is met alles behalwe die tragiese omstandighede daarvan besig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.