Volgens CNN word Vester Flanagan in verband met die voorval gesoek. Hy het glo as Bryce Williams bekend gestaan toe hy as ʼn verslaggewer by die WDBJ-nuuskanaal gewerk het. Alison Parker, ʼn TV-aanbieder en Adam Ward, ʼn kameraman, is omstreeks 06:45 Woensdagoggend doodgeskiet tydens ʼn regstreekse uitsending.
Tydens die onderhoud is skote en gille skielik gehoor waarna die kamera op die grond geval het. Volgens WDBJ7 was Ward 27 jaar oud terwyl Parker pas 24 geword het. Parker was besig om ʼn onderhoud te voer met Vicki Gardner, ʼn direkteur by die plaaslike sakekamer, oor toerisme in die area toe die aanval plaasgevind het. Gardner is in die rug geskiet en is in die hospitaal opgeneem.
Chris Hurst, Parker se kêrel, het intussen op Facebook hulde gebring aan haar. “Ons was baie verlief. Ons het pas saam ingetrek. Ek is lam. Ons was amper nege maande saam. Dit was die beste nege maande van ons lewens. Ons het pas haar 24ste verjaarsdag gevier. Sy was die stralendste vrou wat ek ooit ontmoet het. En vir een of ander rede het sy my terug liefgehad. Sy was baie lief vir haar familie, ouers en broer. Ek word getroos deur almal by WDBJ7. Ons is ʼn familie. Sy het elke dag saam met Adam gewerk. Hulle was ʼn span. My hart breek vir sy verloofde.”Klik hier vir om die vorige berig te lees en video van die voorval te sien.