Virus ook op wêreld se hoogste piek

Everest se basiskamp, sowat 140km noordoos van Katmandoe. (Foto: AFP)

Die Nepalese Lhakpa Sherpa het berg Everest reeds sewe keer uitgeklim, maar verlede jaar se seisoen – wat gekenmerk is deur die koronavirus, siklone en verkeerde inligting – het sy as die uitdagendste van haar loopbaan bestempel.

Die pandemie het Nepal se bergklimbedryf verlede jaar byna heeltemal tot stilstand gebring en was ʼn gevoelige slag vir die klein Himalaja-land se ekonomie wat swaar op die toerismebedryf steun.

Met die aanbreek van die noordelike lente het die aantrekkingskrag van die wêreld se hoogste piek klimmers weer teruggelok.

Hoewel die Chinese kant van die berg gesluit gebly het, het Nepal ʼn rekordgetal van 408 permitte toegestaan om Everest uit te klim. Dit beteken inkomste van sowat R57 miljoen.

Kwarantynbeperkings is verslap om klimmers te lok, maar daar was geen duidelike planne om te toets vir Covid-19, mense te isoleer of ʼn uitbreking in bedwang te hou nie.

Dit kan reeds dodelik gevaarlik wees net om die berg te klim, maar nou is dit selfs nóg gevaarliker.

Net enkele weke nadat die kruin heropen het, het die Noorweegse bergklimmer Erlend Ness bevestig dat hy siek gevoel het in die basiskamp en later in Katmandoe positief vir Covid-19 getoets het.

Nog gevalle het gevolg.

Sherpa het egter steeds besluit om deur te druk met Pioneer Adventures se ekspedisies vir 23 kliënte.

“Die seisoen was uiters moeilik. Ons het weens Covid reeds onder druk gewerk en toe draai die weer ook nog teen ons.”

Die warmer tydperk wat gewoonlik veiliger toestande vir die klim van Everest en ander Himalaja-pieke insluit, het saamgeval met ʼn dodelike tweede vlaag virusinfeksies in Nepal. In Mei is meer as 9 000 nuwe gevalle in ʼn stadium per dag aangemeld.

“Daar was altyd ʼn gehoes, gewone verkoues en die gevaar om in ʼn sneeustorm of diep skeur te beland. Vanjaar was die gevaar dat indien ons Covid opdoen ons nie sou klim nie, omdat dit veroorsaak dat jy moeilik asemhaal en moegheid veroorsaak,” sê Mingma Dorji Sherpa, ook ʼn gids.

Talle siek

Berklimmers steek die Khumbu-ysval op pad na Everest se kruin oor. (Foto: AFP)

Ten spyte van die voorsorgmaatreëls wat die spanne probeer tref – hulle dra maskers, ontsmet en sonder hulle af indien nodig – het die virus aanhou versprei.

Vlieëniers in persoonlike beskermingstoerusting het ingevlieg om tientalle mense wat vermoedelik Covid-19 opgedoen het na veiligheid te neem, en minstens twee maatskappye het ekspedisies gekanselleer nadat spanlede positief getoets het.

Toe die Yslandse tweemanskap Sigurdur Sveinsson en Heimir Hallgrimsson begin hoes toe hulle ʼn hoogte van sowat 7 000 m bereik het, het hulle vermoed hulle het die virus opgedoen. Hulle het steeds die kruin op 8 849 m bo seespieël bereik.

Hul simptome het vererger toe hulle die terugtog begin aanpak het.

“In Kamp 2 was ons albei baie siek en het gehoes, kopseer gehad en was uitgeput. Ons het vermoed alles is nie reg nie en ons moes so gou as moontlik afkom,” het die twee in ʼn verklaring gesê.

Albei het positief getoets nadat hulle die basiskamp bereik het, en het in hul tente in afsondering gebly.

Steeds het die owerhede in Nepal nie ʼn enkele geval op die berg erken nie. Daar was vanjaar selfs meer op die spel nadat verlede jaar se sluiting een van Asië se armste lande miljoene rande aan inkomste gekos het. Portiere en gidse vir welaf buitelandse klimmers is sonder enige inkomste gelaat.

Dit was die derde keer die afgelope dekade dat Everest se kruin leeg was. Bergklimmers het in 2015 hoed vasgedruk nadat ʼn aardbewing ʼn sneeustorting veroorsaak het wat 18 lewens geëis het.

In 2014 het ʼn sneeustorting die lewe van 16 Nepalese gidse op die berugte Khumbu-ysval geëis en organiseerders is gedwing om hul ekspedisies op te skort.

Lukas Furenbach, wat die eerste was om ʼn ekspedisie weens Covid-19-uitbrekings te kanselleer, sê die regering moet die geldigheid van die lisensies wat sy kliënte gekoop het om Everest te klim, verleng. ʼn Lisensie kos sowat R150 000.

“Nepal het buitelandse ekspedisies genooi en ons van Covid-veiligheid verseker. My kliënte het egter glad nie veilig gevoel by die basiskamp nie,” sê hy.

Organiseerders het boonop self-sensorskap toegepas en daar was dus geen manier om die werklike getal gevalle onder Everest-klimmers en gidse te bepaal nie.

“Daar is geen verskoning vir die [regering se] blatante leuens, ontkennings en toesmeerdery in hierdie seisoen nie,” het die bergklimblogger Alan Arnette Vrydag geskryf.

“Verstaan hulle dat hul optrede net die geloofwaardigheid ondermyn wat hulle nodig het om hul hulpbronne doeltreffend te bestuur?”

Belangstelling gaan nie taan

Diegene wat bereid was om hul kanse met Covid-19 te waag, het egter ʼn verkorte vensterperiode om te klim. Die regering het ʼn beperking geplaas op die getal klimmers wat mag opgaan in ʼn poging om ʼn verkeersknoop op die kruin te verhoed en twee siklone wat Indië verlede maand getref het, het die seisoen van drie maande selfs verder verkort.

Toe die tweede sikloon Indië verlede week getref het, het dit ʼn groot sneeustorm op Everest veroorsaak en die tente begrawe van die klimmers wat gewag het om die kruin te bereik.

Die finale syfers moet nog bekend gemaak word, maar die departement van toerisme skat dat sowat 400 klimmers vanjaar die kruin gaan bereik. Dit is veel minder as die 644 wat in 2019 die kruin bereik het, toe veel minder permitte uitgereik is.

Die Duitse klimmer Billi Bierling, wat ʼn databasis bestuur wat rekord hou van mense wat die kruin bereik, sê die afgelope jaar se gebeure gaan waarskynlik min doen om belangstelling in die berg te laat taan.

“Miskien sal ons dink oor wat in 2021 gebeur het, maar wanneer hierdie agter die rug is, gaan ekspedisie-operateurs en klimmers terugkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Keith

Ag nonsense man !!! I suppose it’s also in the oceans, the rivers, lakes , swimming pools, municipal water storage and wherever your imagination can take you. Enough of this asseblief.

SomeOne

dan word daar gesê dat op die pole sal daar nie covid wees nie, maar everest is ook bitter koud, kyk wat het daar gebeur