Visekanselier in die sop oor Grace Mugabe se PhD

Grace Mugabe. Foto: (Xinhua/Stringer) (zxj)

Levi Nyagura, visekanselier van die Universiteit van Zimbabwe, is in hegtenis geneem te midde van ʼn debakel oor Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou, se doktorsgraad aan dié universiteit.

Phyllis Chikundura, ʼn woordvoerder vir Zimbabwe se anti-korrupsiekommissie, het dié nuus bevestig.

Chikundura het gesê Nyagura is Vrydagmiddag in hegtenis geneem en sal waarskynlik deur die loop van die naweek van die misbruik van ʼn openbare amp aangekla word.

Die hoëronderwysinstelling het eers vanjaar bekend gemaak dat Mugabe ʼn doktersgraad aan die universiteit verwerf het – vier jaar nadat sy die graad in ʼn rekordtyd van net drie maande verwerf het. Volgens berigte was daar egter geen teken van ʼn tesis nie en is haar tesis eers vanjaar op die universiteit se databasis gelaai.

Mugabe het haar graad glo saam met 3 274 ander verwerf, waaronder die voormalige adj.pres. Joice Mujuru.

Nyagura is in die media sedert Mugabe se graad deur haar man, oudpres. Robert Mugabe, aan haar oorhandig is. Oudpres. Mugabe was in daardie tyd die kanselier van alle staatsuniversiteite in die land.

Altesaam 15 dosente van die sosiologie-afdeling by die universiteit het onlangs versoek om die saak te ondersoek en beweer hulle het nooit Mugabe se studieafskrifte en vorderingsverslag van haar proefskrif gesien nie.

Nyagura het na bewering die dosente daarvan beskuldig dat hulle nie gekwalifiseerd was om haar akademiese vordering te monitor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul Mardon ·

Ek dink dat die vertaling na “openbare kantoor” nie vars is nie. Dit lyk na ‘n vertaling van “public office” wat eerder vertaal moet word met “openbare” “amp” of “posisie”?

Cyril Blackburn ·

Dagsê Paul
Dankie vir jou kommentaar – ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

HPV ·

Lyk my tussen die Mugabes, Zumas en Cuptas gaan die howe en tronke ‘n baie besige tyd binne. Ek wonder hoeveel keer is die woord korrrupsie die afgelope jare al geskryf of gebruik?

Anoniem ·

Doktersgraad is ñ mediese graad wat verwerf word. ñ Doktorsgraad is ñ nagraadse kwalifikasie wat jy verwerf na jy jou honeursgraad gekry het. As sy ñ doktersgraad verwerf het moet ons op ons hoede wees vir kwalifikasies wat die universiteit gee.

PJC ·

Hierdie laat my wonder oor ń hele klomp ouens in ons land, onder andere Julius Malema, se vinnige verwerwing van grade. Hoe hoog was die standaarde waaraan hulle moes voldoen.

Pieter ·

Ek wonder ook. Word ‘n doktorsgraad nou ‘n politieke byvoordeel?

Wim Kotze ·

PJC, jou twyfel is reeds besweer in 2015 met UNISA se toekenning van ‘n doktorsgraad aan die Haïtiaanse vlugteling, Jean-Bertrand Aristide.

leser ·

ek wonder oor die dokters, doktore, wat ook in die anc voorkom, hoeveel daarvan/daarmee is gekoop/gekook

Ha Ha! ·

Ai ek weet nie wat is die snaaksste nie – dat Zimbabwe ‘n “anti-korrupsie kommissie” het nie of dat Grace die Verskriklike allerlei grade het nie.

Nou wat nog ·

Ek dink mens kan maar alle grade of sertifikate wat zimbabwe af kom met `n houtoog beloer… en Unisa ook maar. Is daar iemand wat vir `n diploma kan organise ? Nie `n meesters of so grand nie… net `n diploma. Ek is nie lus vir studeer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.