Visspesie na Sir David Attenborough vernoem

Sir David Attenborough. (Foto: Asadour Guzelian/Pool Photo, AP)

ʼn Klipvisspesie wat onlangs in die Serengeti Nasionale Park in Tanzanië ontdek is, is vernoem na die beroemde verteller en wild- en natuurbewaringsaktivis, Sir David Attenborough.

Die helderkleurige Nothobranchius attenboroughi is skaars vyf sentimeter lank en bekend daarvoor dat dit jonk doodgaan. Hierdie spesie is egter ʼn noodsaaklike skakel in die Serengeti-Mara ekosisteem.

Attenborough beklemtoon altyd dat ʼn ekosisteem uit baie spesies, selfs kleiner spesies bestaan, daarom het vyf wetenskaplikes en visentoesiaste van Kanada, Frankryk en Suid-Afrika besluit om hierdie kwesbare spesie na hom te vernoem.

“Ons wou Sir Attenborough vereer vir sy pogings om wêreldwyd ʼn bewustheid te skep oor die wonder en skoonheid van die natuur, vir die bevordering van biodiversiteitsbewaring, en bowenal dat hy so baie jongmense en navorsers in die veld van natuurgeskiedenis geïnspireer het, ons inkluis,” sê die groep navorsers.

Prof. Dirk Bellstedt, biochemiekus aan die Universiteit Stellenbosch (US), en dr. Fenton Cotterill, geoloog by die departement aardwetenskappe van US, het in samewerking met hul studente, De Wet van der Merwe van Suid-Afrika, asook Béla Nagy van Frankryk en prof. Brian Watters van Kanada navorsing oor hierdie spesie aangepak.

Die Nothobranchius attenboroughi. (Foto: Verskaf)

Die groep werk sedert die 1990’s al saam en het reeds duisende kilometers afgelê van Tsjad en Soedan, deur oostelike Sentraal-Afrika tot by die Caprivi-streek in Namibië en Suid-Afrika se noordelike provinsie van KwaZulu-Natal. Dít als in ʼn poging om die Nothobranchius-spesies te bestudeer, te beskryf en inligting, sowel as weefsel vir laboratoriumbestudering in te samel.

ʼn Sleutelaspek van hul studie was die DNS-volgordebepaling en molekulêre werk wat in 2007 deur Cotterill in Bellstedt se laboratorium begin is en sedert 2015 uitgebrei is deur van der Merwe se PhD-navorsing.

“Die biodiversiteit van Oos-Afrika is bekend vir die diversiteit van sy groot soogdiere, maar die varswatervislewe is nie minder belangrik nie,” sê Bellstedt. “ Die bewaringstatus van Nothobranchius attenboroughi is afhanklik van die ongeskondenheid van die Serengeti-Mara ekosisteem en die gebied wat die Victoriameer omring.”

Dít is omdat hierdie vis in die reënseisoen slegs lank genoeg leef om volwassenheid te bereik en dan doodgaan sodra hul eiers in die modderonderlaag gelê word en die seisoenale poele opdroog. Die modder word dan droog en kraak wat suurstof inlaat en die embrio’s laat ontwikkel. Met die koms van die reënseisoen wanneer die poele weer vol word, broei die eiers uit waarna die klein vissies vinnig groei, doodgaan en die siklus homself herhaal.

Met klimaatsverandering en die vestiging van mense in die streke rondom die Victoriameer, is die bewaring van die Serengeti-Mara ekosisteem nie net belangrik vir die bewaring van die groot soogdiere nie, maar ook vir die wonderlik aangepaste helderkleurige klein vissies en hulle onsekere lewensiklus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

2025 – ondekte kakkerlak spesie in Suid Afrika vernoem na Jacob Zuma!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.