Vlieg nou na een van die wêreld se mees afgeleë eilande

St. Helena (Foto: Edward Thorpe, St. Helena Tourisme via AP)

Een van die wêreld se mees afgeleë eilande is nou ʼn bietjie minder geïsoleerd nadat kommersiële vlugte daarheen ingestel is.

Die Britse eiland St. Helena wat tot onlangs nog net per boot bereikbaar was, het Saterdag die eerste kommersiële vlug verwelkom. Dié SA Airlink-vlug van Johannesburg – wat Windhoek aandoen – duur ses uur.

St. Helena is die eiland waar Napoleon Bonaparte sy laaste jare in ballingskap deurgebring het. Die eiland spog ook met uitsonderlike seelewe en landskappe en die hoop is dat dié nuwe vlugte meer toeriste na die eiland sal lok.

“Dankie dat jy deel is van dié historiese geleentheid,” het die vlieënier gesê net voor die vertrek van die eerste vlug. Die geleentheid is gevier met vonkelwyn en sjokolade wat op die vlug uitgedeel is.

African News Agency berig dat nuwe vervoermetode wat weeklikse vlugte insluit bring die bootverbinding tot ʼn einde. Die diens van die posboot, met ʼn vaart wat drie weke lank duur, sal in Februarie opgeskort word.

Vlugte na St. Helena was veronderstel om in Mei 2016 te begin, maar weerstoestande het tot gevolg gehad dat dit uitgestel moes word. Daar is 13 toetsvlugte in Augustus gedoen.

St. Helena lê sowat 1 930 km wes van Afrika, op dieselfde breedtegraad as die grens tussen Angola en Namibië.

Lisa Phillips, die eiland se goewerneur, sê St. Helena is die plek waar jy ʼn ver ent van ʼn ver ent is.

Van die vulkaniese eiland se gewilde besienswaardighede is ʼn reuseskilpad genaamd Jonathan wat glo 185 jaar oud is en Jacob’s Ladder, ʼn stel van 699 trappe in die buitelug wat in ʼn vallei begin en teen ʼn heuwel op strek in die hoofstad, Jamestown.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ekwilibrium ·

Napoleon word genoem, maar die Boerekrygsgevangenes op Sint Helena nie?? Daar lê 146 van ons mense daar begrawe, en duisende het teruggekom met herinneringe van wreedheid en ontbering! Nou ja, net soveel meer rede om ‘n besonderse eiland te besoek; die ruwe kusdele is dorre woestyn terwyl die welige bergagtige binneland aan die Natalse Middellande herinner.

E ·

Ja, ek wou dit ook vra. Dis seker nie polities korrek om die mense te onthou nie…

alwyn burger ·

Ekwillibrium ,lyk my dit is net ek en jy wat weet van ons mense wat daar rus. Die Engelse was lief daarvoor om teenstanders op te hang of te verban!. Ek lees die Zoeloe-opperhoof, Dinizulu was ook daarheen verban. Vandag is die eens magtige Engeland besig om ñ grap te word

fred ·

My Oupa- grootjie is na St Helena gedeporteer as krygsgevangene. Hy is daar op ouderdom 39 oorlede en daar begrawe. Sal baie graag daar wil kom, ek wonder wat kos ‘n retoer vliegkaartjie?

Kannaland ·

Ek dog SAA knip reeds vlugte eerder as om nog by te voeg. Ek sou nie sommer die boot uitfasseer nie, mens weet nie wat van SAA gaan word nie want al die beskikbare geld is reeds geloot en die pensioenfondse gaan ook maar net so lank hou voor die ook weggeraap is deur Guptastan.

Susan ·

My oupa van Zyl was ook ‘n krygsgevangene op St Helena, het sy medalje wat hy gekry het na sy terugkeer, ek weet ook dat daar ‘n gedenkmuur by die Voortrekker Monument is waarop al die krygsgevangenes se name verskyn.

Makapani ·

@ Kannaland – SA Airlink is nie deel van die SAA-stal nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.