Vliegongeluk: Leë kiste en sakkies grond vir families van slagoffers

Familielede tydens die massabegrafnis in Addis Ababa, Ethiopië (Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene)

ʼn Massabegrafnis is Sondag in Addis Ababa in Ethiopië gehou vir die 157 slagoffers van ʼn vliegtuigongeluk van Ethiopia Airlines.

Die diens volg een dag ná beamptes sakkies grond aan familielede van die slagoffers oorhandig het in plaas van die oorskot van hul geliefdes, omdat die identifikasieproses na verwagting lank sal duur. Daar was ook 17 leë doodskiste waaroor die nasionale vlag gedrapeer is.

Familielede het bevestig hulle het ʼn 1 kg-sakkie grond, wat by die ongelukstoneel versamel is, ontvang.

Die slagoffers van Ethiopia Airlines Vlug 302 kom van 35 lande en sluit talle humanitêre werkers in wat na Nairobi op pad was.

Franse ondersoekbeamptes het Saterdagaand gesê hulle het suksesvol die inligting afgelaai van die kajuit se stemopnemer en die data direk na die Ethiopiese ondersoekspan gestuur sonder om na die klanklêer te luister. Hulle werk Sondag aan die vlugopnemer se data, maar geen bykomende inligting is bekend gemaak nie.

Die relatief nuwe Boeing 737 Max 8 van Ethiopian Airlines het op 10 Maart 2019 neergestort kort ná dit opgestyg het. Al 157 persone aan boord is dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KaterinaKat ·

Was ook my gevoel toe ek na die foto’ s kyk, hartverskeurend. Ek tik hierdie met trane wat loop, daardie foto’s van geliefdes wat omhoog gehou word, was net te veel..

Beesblaas ·

Die uitkenning gaan tot 4 maande neem. Dit was regtag n katastrofiese ongeluk.

Marius ·

Hierdie ongeluk is tragies, net ‘n paar maande na ‘n soortgelyke voorval in Indonesie. Wat ookal die elektroniese oorsaak is, die vervaardiger – Boeing – en verskeie ander hooggeplaasde ondersoekbeamptes en regerings instansies, sal moet ‘n wesenlike antwoord en oplossing op die tafel le, aangesien dit die werk van duisende in Amerika en regoor die wereld in gedrang bring. Verskeie lugrederye het vlugte van die spesifieke model gestaak, hangende die ondersoek wat verskeie maande kan duur. Wat blyk hier van lugvaartkenners in Australie, is as die automatiese vlugbeheer[“autopilot”] aangeskakel word, dit die hoogte vd vliegtuig negatief aanpas en die loodse dan dit moet terug diang via fisiese beheer, maar dan begin die hele proses weer en herhaal hom verskeie kere totdat die sagteware finaal die vliegtuig in ‘n afwaartse spiraal indwing waaruit die loodse, al het hulle dit afgeskakel nie kan uitkry nie. Op Youtube is ‘n video geneem van so ‘n voorval met ook dieselfde vliegtuig wat baie naby ‘n lughawe dit gedoen het. Dit beteken dat Boeing die hele sagteware kodestelsel sal moet aanpas en loodse heropleiding sal moet kry, wat ‘n eienaardige bedrag geld gaan kos vir baie lugrederye.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.