Vliegramp laat Nederlandse polisie noustrop trek

‘n Lid van die ondersoekspan en sy kadawerhond soek na besittings en liggaamsreste in die omgewing van die ramptoneel. Foto: ANP

‘n Lid van die ondersoekspan en sy kadawerhond soek na besittings en liggaamsreste in die omgewing van die ramptoneel. Foto: ANP

Die polisie in Nederland trek volgens polisievakbonde noustrop weens dié land se leiding in die ondersoek na die vliegramp van die Maleisiese vlug MH17 oor Oekraïne. Nederland is aangewys om die ondersoek na die ramp te lei.

Volgens die vakbonde veroorsaak die enorme hoeveelheid forensiese werk wat die vliegramp oplewer, groot agterstande in ondersoekwerk na inbrake en ander misdaad.

Altesaam 840 Nederlandse polisielede is by die ondersoek na die vliegramp betrokke, wat ‘n “ongewoon hoë onttrekking” van polisielede uit hul gewone werk is. Boonop vereis toesig by die talle Gasa- en ISIS-betogings wat in Nederland gehou word, dat baie polisiebeamptes ook nie by hul gewone werk kan uitkom nie.

Nederlandse, Australiese en Maleisiese ondersoekbeamptes besoek Woensdag vir die sesde agtereenvolgende dag die ramptoneel. Die ondersoek kon eers onlangs begin weens die gevegte in die gebied. Die afgelope paar dae is geen menslike oorskot meer gevind nie, en die vermoede is dat dit is omdat van die plaaslike bevolking dit gebuit het voor die ondersoek kon begin.

Nederland het, ironies, hulp van miljoene rande aan Suid-Afrika aangebied vir die opgradering en uitbreiding van sy forensiese vermoëns om agterstande en foute uit te skakel.

Bron: Trouw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.