Vliegtuig skeur oop ná dit van aanloopbaan gly

Foto: @santhusarling/Twitter

Minstens 14 mense is dood en tientalle beseer toe ʼn vliegtuig van ʼn aanloopbaan gegly en in twee geskeur het in Kerala, Indië.

Die vliegtuig van Air India Express het Vrydag in swaar reën by die Kozhikode- internasionale lughawe geland toe die voorval plaasgevind het. Die Boeing 737 het van Dubai na Kozhikode in die suide van Indië gevlieg.

Rajiv Jain, ʼn woordvoerder van die burgerlugvaartowerheid, het gesê daar was 174 volwassenes, tien kinders en sewe bemanningslede aan boord van die vliegtuig.

(AP Photo)

Intussen is 15 mense in ʼn modderstorting in die Idukki-distrik, ook in Kerala, dood weens die swaar reën in die provinsie. Volgens berigte word minstens 50 mense nog vermis.

Die meteorologiese kantoor het ʼn rooi waarskuwing uitgereik met nog meer reën wat in die streek verwag word.

Die jaarlikse moesonreën in Suid-Asië vind van Junie tot September plaas. Die reën is van kardinale belang vir gewasse wat tydens die seisoen geplant word, maar veroorsaak dikwels groot skade.

Meer as 550 mense is reeds in Indië, Bangladesj en Nepal dood en meer as 9,6 miljoen mense word geraak sedert die oorstromings in Junie begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae