Vliegtuig val tydens werktuigkundige se ‘pretrit’

Vliegtuie by die Sea-Tac Internasionale Lughawe waar ʼn werktuigkundige ʼn vliegtuig gesteel het vir ʼn ongemagtigde pretrit (10 Augustus 2018). Foto: Elaine Thompson/AP

ʼn Vliegtuig het Vrydagaand op ʼn klein eiland naby die Sea-Tac Internasionale Lughawe by Seattle in die VSA geval nadat ʼn lugvaartwerktuigkundige “met selfmoordneigings” glo die vliegtuig vir ʼn ongemagtigde pretrit gesteel het.

Owerhede het gesê militêre vliegtuie het die werktuigkundige in die Q400-vliegtuig agternagesit voordat die vliegtuig op die eiland in die Puget Sound geval het.

Ed Troyer, woordvoerder van die Pierce-distrik se aanklaerskantoor, het gesê die vliegtuig het geval omdat die 29-jarige werktuigkundige “toertjies in die lug gedoen het of weens ʼn gebrek aan vliegvaardighede”. Troyer het gesê die man het selfmoordneigings en die voorval hou nie verband met terreur nie.

ʼn Video het getoon hoe die vliegtuig groot sirkels in die lug en ander gevaarlike toertjies uitvoer terwyl die son ondergaan. Daar was geen passasiers of bemanningslede aan boord nie.

Foto: AP Photo/Ted S. Warren

Op klankopnames kon gehoor word hoe die man vir lugverkeerbeheerders sê hy is “net ʼn gebroke man”. ʼn Lugverkeerbeheerder het die man “Rich” genoem en hom probeer oortuig om die vliegtuig te land. Hy het aan hom verduidelik daar is ʼn landingstrook by ʼn nabygeleë vliegveld waar hy kan land.

“Ai tog. Daardie ouens gaan my aanrand as ek daar probeer land,” antwoord die werktuigkundige. Later voeg hy by: “Dít beteken seker lewenslange tronkstraf vir my, nè?”

Later sê die werktuigkundige dat hy “baie mense het wat vir hom omgee” en dat hulle teleurgesteld gaan wees as hulle hoor wat hy gedoen het. “Ek is net ʼn gebroke man, het seker maar ʼn paar skroewe los.”

Ooggetuies het vertel militêre vliegtuie het die Horizon Air-vliegtuig agternagesit voordat dit ongeveer 15 minute nadat dit opgestyg het op die Ketron-eiland geval het. ʼn Boot van die Amerikaanse kuswag het na die toneel gehaas nadat die vliegtuig geval en dik rook die lug in geborrel het.

Polisievoertuie naby die toneel waar die vliegtuig geval het. Foto: AP Photo/Ted S. Warren

Die naam van die werktuigkundige is nie onmiddellik bekendgemaak nie. Troyer het gesê owerhede is tans besig om die man se agtergrond na te gaan.

Die man is ʼn werknemer van Horizon Air en die vliegtuig is omstreeks 20:00 gesteel. Vlugte by die lughawe is tydelik gestaak terwyl die drama hom afgespeel het.

Daar was nie onmiddellik amptelike bevestiging van die man se toestand nie, maar volgens onbevestigde berigte het hy in die ongeluk gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JAN ·

Sweerlik het die ANC en Effers kokkedore ook selfmoord neigings. Hulle kaap ń land en doen trieks gevaarlik vir self en ander.
Hulle weet nie hoe om te land nie.
Ons eie September 66 .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.