Vliegtuigongeluk: DNS-toetse dalk nodig weens verminkte liggame

Die Cessna 5Y-CAC wat in Kenia vermis geraak het. (Foto: Daily Nation)

Familie en vriende van die slagoffers van ʼn vliegtuigongeluk in Kenia sal Vrydag poog om hul geliefdes te identifiseer.

Maroela Media het vroeër berig die wrak van die Fly-SAX-vliegtuig, wat Dinsdag onderweg na Nairobi vermis geraak het, is Donderdagoggend in die Aberdare Nasionale Park opgespoor.

The Daily Nation berig DNS-toetse sal moontlik benodig word om die identiteit van die oorledenes te bepaal aangesien sommige erg vermink en selfs onthoof is.

Die tien mense aan boord se beserings was glo so omvattend dat dit selfs moeilik is om die geslag van sommige oorledenes te bepaal. Party het ledemate wat vermis is en ander se liggame is heeltemal aan flarde geruk.

Die oorledenes se oorskot is Donderdag van Njambini in Nyandarue na Nairobi vervoer.

Die Cessna C208-vliegtuig met die registrasienommer 5Y-CAC, wat vanaf Kitale gevlieg het, het Dinsdagaand by Elephant Point in die Aberdare-woud neergestort. Die vliegtuig is aan flarde geruk ná die neusgedeelte glo klippe van ʼn reusekrans getref het.

Minstens 300 vrywilligers van die plaaslike gemeenskap het die soek-en-reddingspanne bygestaan.

Dit het meer as twee dae geduur om toegang tot die toneel en wrak te verkry aangesien die weer baie sleg was en die terrein baie rof is.

Selfs al het enige passasiers die ongeluk oorleef, sou hulle waarskynlik verkluim het aangesien hulle vir nagenoeg twee dae in die yskoue wrak vasgekeer sou wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.