Vlug GE235: Dodetal styg ná TransAsia-vliegongeluk

Skermskote van die vliegtuig wat val. Die video volg onderaan die berig.

Skermskote van die TransAsia-vliegtuig wat op 4 Februarie 2015 neergestort het.

Nog liggame, insluitend ʼn vroulike bemanningslid, is Saterdag gevind nadat ʼn vliegtuig van TransAsia vroeër vandeesweek in Taipei neergestort het. Dit bring die amptelike dodetal tans op 40 te staan.

TransAsia Vlug GE235 met 58 persone aan boord, het Woensdag net nadat dit by die Songshan-lughawe opgestyg het, in die Keelungrivier neergestort. ʼn Taxibestuurder en passasier op die brug is ook tydens die ongeluk beseer, het die sentrale nuusagentskap berig.

Vyf liggame is tussen 100 meter en 1 km afstroom van die wrak af opgespoor, het die Taipei-brandweer gesê.

Een van die liggame was in ʼn TransAsia-uniform geklee en die persoon is vinnig uitgeken as die 27-jarige bemanningslid Yeh Chia-ching.

Drie van die persone aan boord word steeds vermis, volgens die burgerlike lugvaarotadministrasie.

Taiwan se lugvaartveiligheidsraad het Vrydag gesê die ATR72-vliegtuig het krag in die lug verloor. Volgens die voorlopige ondersoek uit die vlugdataopnemer, het die vliegtuig ongeveer drie en ʼn half minute nadat dit opgestyg het, neergestort.

“Die vlieëniers het tevergeefs probeer om die enjin weer aan die gang te kry,” het Thomas Wang, hoof van die lugvaartveiligheidsraad, gesê. “Die ondersoekbeamptes kan nog nie met sekerheid sê waarom die enjins onklaar geraak het nie.” Dit sal maande lank duur voordat die opnames deeglik bestudeer en geanaliseer is.

Die burgerlike lugvaartadministrasie het Vrydag bekend gemaak dat vyf enjins van TransAsia-lugredery se vloot van ATR72-vliegtuie die afgelope vyf jaar onklaar geraak het, voor die ongeluk in Taipei. Dit is die tweede noodlottige ongeluk in sewe maande en die lugredery het Vrydag aangedui dat 71 vlieëniers van sy vloot van 10 ATR-vliegtuie ʼn toets sal moet ondergaan deur die burgerlike lugvaartowerheid om seker te maak dat hulle almal vir hul pos kwalifiseer.

Lin Chih-ming, direkteur van die lugvaartowerheid, het gesê die toetse begin Saterdagmiddag en sal vier dae lank duur. Altesaam 40% van die lugredery se gewone vlugte word hierdeur geraak.

Lees alle vorige berigte oor Vlug GE235 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.