Vlug MH17: Nederland hou dag van rou

Foto: ʼn Wrakstuk van Vlug MH17 Foto: Dominique Faget/AFP/Getty Images

Foto: ʼn Wrakstuk van Vlug MH17 Foto: Dominique Faget/AFP/Getty Images

Die regering van Nederland het Woensdag tot ‘n nasionale dag van rou uitgeroep – die dag waarop die eerste vliegtuigbesending van sowat 200 oorledenes van die Maleisiese lugramp bo Oekraïne in Nederland verwag word.

Alle vlae op regeringsgeboue sal die dag halfstok hang en klokke sal deur die loop van die dag beier.

Die eerste twee vlugte, een van ‘n Nederlandse, en een van ‘n Australiese lugredery, sal elk vyftig kiste bevat. Die vliegtuie sal op die lugmagbasis van Eindhoven neerstryk, waar hulle deur die Nederlandse koningspaar, koning Willem-Alexander en koningin Maxima, asook premier Mark Rutte ingewag sal word. Na die landing sal ‘n minuut stilte volg, waarna klokke vyf minute lank sal beier. Geen openbare uitsender sal ‘n dag lank enige advertensies uitsaai nie.

Die liggame word hierna met ‘n stoet na die Korporaal van Oudheusdenkazerne in Hilversum geneem waar die lang proses van uitkenning sal begin. Dit kan dalk maande neem voor die hele proses afgehandel is.

Slegs sowat 200 van die byna 300 slagoffers se oorskot is nog onderweg na Nederland. Liggaamsdele word steeds oor ‘n wye gebied gevind.

Intussen het Nederland, wat die leiding met die ondersoek na die ramp neem, Brittanje betrek by die ontleding van die vlugopnemers.

Bronne: Verskeie berigte van die Nederlandse koerant Trouw is gebruik om die berig saam te stel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Wat ‘n hartseer dag – sterkte aan elke persoon wat ‘n geliefde met hierdie gruwelike daad verloor het.

K Nader ·

Daar was heelwat winkelpoppe ook op die ramptonele . Kyk nader . Ongeskonde paspoorte . ens ens . Gevoel wat ons moet kry …. Rusland .. Dis Rusland , kom ons maak oorlog teen Rusland . Daar is verskillende ateljees wat die “ramptoneel” opgestel het , baie slordig gedoen . Kyk na agtergrond . Manekyne , net een vlerk ens ens . Hulle sal seker weer so iets doen , mense word nie meer so vining oortuig soos vroeer nie . Ons het ander intel wat ons kan raadpleeg , dan self dink .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.