Vlug QZ8501: Seine van swartbokse straks opgevang

Stertgedeelte van AirAsia se Vlug QZ8501 wat op 28 Desember 2014 in die see verdwyn het. Foto: Skermskoot uit CNN-video

Stertgedeelte van AirAsia se Vlug QZ8501 wat op 28 Desember 2014 in die see verdwyn het. Foto: Skermskoot uit CNN-video

Duikers wat op soek is na wrakstukke van AirAsia se passasierstraler wat einde verlede jaar in die Javaanse See neergestort het, het Vrydagoggend seine opgevang wat waarskynlik van die gedoemde vlug se vlugopnemers afkomstig is, berig CNN.

Weens die slegte weer is die sig in die onstuimige see byna nul, en sterk seestrome bemoeilik die soektog verder. Die bergingspan kon ook weens die sterk strome nog nie daarin slaag om die vliegtuig se stertgedeelte wat onlangs gevind is, uit die see te lig nie.

AirAsia Vlug QZ8501 het op 28 Desember 2014 tussen Surabaya in Indonesië en Singapoer verdwyn. Die Airbus A320-200 met 162 persone aan boord het verdwyn nadat die vlieënier versoek het om van koers af te wyk weens slegte weersomstandighede.

Basarnas, die amptelike soek- en reddingspan van Indonesië, het tot dusver 41 liggame opgespoor waarvan 25 persone reeds uitgeken is.

Lees alle vorige berigte oor Vlug QZ8501 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.