Vlug QZ8501: ‘Vier groot voorwerpe gevind’

Foto: Xabryna Kek/Channel NewsAsia/Facebook

Foto: Xabryna Kek/Channel NewsAsia/Facebook

Indonesiese soek- en reddingspanne wat die Java-see fynkam vir die wrak van AirAsia se Vlug QZ8501 het vier groot voorwerpe gevind, berig BBC.

Volgens die berig het ʼn Indonesiese vlootskip die vier groot voorwerpe met behulp van sonartegnologie gevind. ʼn Onderwatervoertuig is intussen in die water gesit om foto’s van die voorwerpe, wat glo sowat 30m diep is, te neem.

Die BBC berig ook dat 30 liggame reeds gevind is. Meeste van die liggame is vermoedelik in die vliegtuig se romp vasgekeer. Die soektog na die vliegtuig se vlugopnemers gaan intussen ook onverpoosd voort.

AirAsia Vlug QZ8501 het Sondag tussen Surabaya in Indonesië en Singapoer verdwyn. Die Airbus A320-200 met 162 persone aan boord het verdwyn nadat die vlieënier versoek het om van koers af te wyk weens slegte weersomstandighede.

Daar was 137 volwassenes, 17 kinders en een baba aan boord tesame met twee vlieëniers en vyf bemanningslede. Een van die passasiers is van Engeland, een van Maleisië, een van Singapoer en drie van Suid-Korea. Altesaam 149 passasiers is van Indonesië. Een van die bemanningslede is van Frankryk en ses van Indonesië.

Lees alle vorige berigte oor Vlug QZ8501 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.