Vlugopnemers van Indonesiese rampvlug opgespoor

Reddingswerkers bring die oorskot van slagoffers van die vliegramp na die lughawe. (Foto: Aditya Aji/AFP)

Liggaamsdele, verwronge wrakstukke en kledingstukke is Sondag uit die water naby die Indonesiese hoofstad gehaal nadat ʼn passasiersvliegtuig met 62 mense aan boord ʼn dag tevore neergestort het kort nadat dit opgestyg het.

Die owerhede het nog nie ʼn aanduiding gegee van waarom die Sriwijaya Air Boeing 737-500 sowat vier minute lank skerp geduik het nadat dit Saterdagmiddag by die Soekarno-Hatta-lughawe opgestyg het nie.

Sondag het hulle gesê hulle kon wel die ligging van die vlugopnemers bepaal – die opnemers wat stemme in die kajuit asook vlugdata opneem – wat deurslaggewend kan wees om te verduidelik hoekom die vliegtuig in die Javasee neergestort het.

“Duikers sal nou daarna begin soek en hopelik is dit nie lank voor ons dit het nie,” het Soerjanto Tjahjono, hoof van Indonesië se vervoerveiligheidsagentskap, gesê.

Die soek-en-reddingsagentskap sê hy het menslike oorskot asook wrakstukke in water van sowat 23 meter diep herwin.

Passasiers Ihsan Adhlan Hakim en sy nuwe bruid Putri was onderweg na Pontianak, ʼn stad op Indonesië se gedeelte van Borneo, waarheen vlug SJ182 op pad was. Die vlug duur gewoonlik sowat 90 minute.

“Hy het my gebel en gesê die vlug is weens gure weer vertraag,” het Hakim se broer, Arwin, gesê. Arwin was op Pontianak, waar ʼn bruilofseremonie vir die egpaar gehou sou word.

“Dit was die laaste keer wat ek met hom gepraat het.”

Skerp duik

Familiede van die 62 slagoffers aan boord van die vliegtuig by ‘n hospitaal om DNS-monsters te verskaf. (Foto: Bay Ismoyo/AFP)

Beben Sofian (59) en haar man, Dan Razanah (58), was ook op die noodlottige vlug.

“Hulle het ʼn selfie geneem en vir hul kinders gestuur voor hulle opgestyg het,” het die egpaar se neef, Hendra, gesê.

DNS van familielede sal nou met dié van die slagoffers vergelyk word om hulle te identifiseer.

Al 62 passasiers en bemanningslede aan boord van die halfvol vlug was Indonesiërs. Dit sluit tien kinders in.

Bedroefde familielede het senuweeagtig by die lughawe op Pontianak gewag vir enige tyding.

“Ek het vier familielede op daardie vlug – my vrou en drie kinders,” het ʼn huilende Yaman Zai gesê.

“My vrou het vir my ʼn foto van die baba gestuur. Hoe kan my hart nie aan flarde wees nie?”

Data van FlightRadar24 wys die vliegtuig het ʼn hoogte van byna 11 000 voet, oftewel sowat 3 350 m, bereik voor dit skielik 250 voet geval het. Dit het daarna verbinding met die lugverkeerbeheertoring verloor.

Die minister van vervoer het Saterdag gesê dit lyk of die straler van sy roete afgewyk het net voor dit van die radar verdwyn het.

“Die vliegtuig se laaste oomblikke is baie kommerwekkend omdat die spoed waarteen dit op daardie hoogte gevlieg het, veel minder is as wat jy sou verwag,” het Stephen Wright, ʼn professor in lugvaartstelsels by Finland se Tampere-universiteit, gesê.

“In die laaste sekondes het die vliegtuig skielik binne 20 sekondes van 10 000 voet tot op seevlak gedaal, wat dui op ʼn katastrofiese voorval of ʼn iets wat doelbewus gedoen is.”

Hy het egter ook gesê die voorval kan eers “ten volle verduidelik word wanneer die vlugopnemers en wrakstukke behoorlik ontleed kan word”.

Sriwijaya Air, wat vlugte na bestemmings in Indonesië en Suidoos-Asië bedryf, het tot dusver min gesê oor die 26 jaar oue vliegtuig wat voorheen deur die Amerikaanse Continental Airlines en United Airlines gebruik is.

Die Indonesiese redery het nog nie ʼn noodlottige vliegongeluk gehad sedert dit in 2003 op die been gebring is nie, maar die voorval is die jongste in ʼn string rampe in die land se lugvaartbedryf.

Daar is al geruime tyd kommer oor veiligheid in die Suidoos-Asiese land se lugvaartsektor en sy rederye is vantevore al verbied om Amerikaanse en Europese lugruimtes binne te gaan.

Veiligheidskommer

Polisielede ondersoek die oorskot van een van die slagoffers van die noodlottige vlug. (Foto: Adek Berry/AFP)

In Oktober 2018 is 189 mense dood toe ʼn Lion Air Boeing 373 MAX naby Djakarta neergestort het.

Die voorval – en nog een in Ethiopië – het tot boetes van $2,5 miljard (sowat R38,5 miljard) vir Boeing gelei weens bewerings dat hy regulatoriese owerhede wat toesig oor die Boeing 737 MAX-model gehou het, mislei het. Die vliegtuie is ná die voorvalle wêreldwyd gehok.

Die 737 wat Saterdag neergestort het, was nie ʼn MAX-model nie.

“Ons gedagtes is by die bemanning, passasiers en hul gesinne,” het Boeing in ʼn verklaring gesê.

In 2014 het ʼn AirAsia-vliegtuig, van Surabava na Singapoer onderweg, ook neergestort. Altesaam 162 mense is dood.

ʼn Finale verslag hieroor het bevind die grootste bydraende faktore het ʼn foutiewe komponent in die stuurbeheersentrum, swak instandhoudingswerk en die vlieënier se onvoldoende reaksie ingesluit.

ʼn Jaar later is meer as 140 mense, talle van hulle op die grond, dood toe ʼn weermagvliegtuig neergestort het kort nadat dit in Medan, op Sumatra-eiland, opgestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ONTPS ·

Ek is seker die vliegtuig was op ‘n hoogte van meer as 11 voet voor dit begin val het…

Megan Swart ·

Dagsê ONTPS
Ons vra om verskoning vir die oorsig, dit moet inderdaad 11 000 voet wees. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Cherokee ·

Om tien duisend voet binne 20 sekondes te daal, moes ‘n verskriklike ervaring wees. Moet maar wag vir die ontleding van die vlugopnemer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.