VN verwag 392 000 Nuwejaarsdagbabas

Argieffoto (Foto: Alexia Schu/Pixabay)

Die Verenigde Nasies het Woensdag gesê na beraming sal daar wêreldwyd op die eerste dag van 2020 sowat 392 000 babas gebore word. Die organisasie het ook die aandag gevestig op die getal kinders wat voor vyfjarige ouderdom sterf, ondanks vordering wat gemaak word in kinderoorlewing.

Alhoewel die getal kinders wat voor vyfjarige ouderdom sterf die afgelope drie dekades met meer as 50% afgeneem het, is daar stadiger vordering wat betref die oorlewingskoers vir pasgebore babas, het Unicef in ʼn persverklaring gesê.

Altesaam 2,5 miljoen babas het in 2018 in hul eerste maand gesterf, insluitend ʼn derde wat op die eerste dag van hul lewens gesterf het. Meeste het gesterf weens oorsake wat voorkom kon word.

Unicef het gesê babas wat in die eerste maand sterf, het in 2018 altesaam 47% verteenwoordig van alle sterftes onder kinders jonger as vyf jaar oud.

Die organisasie versoek beter beskerming en mediese sorg vir ma’s en pasgebore babas. Te veel vroue word nie deur ʼn opgeleide en ervare vroedvrou of verpleegster bygestaan nie, aldus die organisasie.

Die meeste babas sal Woensdag in Indië gebore word, volgens Unicef. Die organisasie voorspel 67 385 geboortes op Nuwejaarsdag in dié land.

China is in die tweede plek met 46 299 en Nigerië in die derde plek met 26 039.

Die topdrie-lande word gevolg deur Pakistan (16 787), Indonesië (13 020), die VSA (10 452), Kongo (10 247) en Ethiopië (8 493).

Unicef voorspel dat 3 192 babas op Nuwejaarsdag 2020 in Suid-Afrika gebore sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.