Volg prins Philip se begrafnis hier

Prins Philip was 99. Hy het Vrydag gesterf. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Prins Harry, die Britse hertog van Sussex, het vroeër vandeesweek in Londen aangekom vir die begrafnis van sy oupa, prins Philip, wat Saterdag plaasvind.

Prins Philip het Vrydag vreedsaam by die Windsor-kasteel gesterf, net twee maande voor sy 100ste verjaardag. Dit was die begin van ʼn agt dae lange nasionale routydperk.

Dit is die eerste keer dat Harry na Brittanje terugkeer nadat hy en sy vrou, Meghan, vroeër vanjaar amptelik die tuig as werkende koninklikes neergelê en na Kalifornië in die VSA verhuis het.

Harry en Meghan het die afgelope ruk ʼn rits beskuldigings teen die koninklike familie gemaak, waaronder beskuldigings van rassisme, asook dat hulle versuim het om Meghan met haar geestesgesondheidsprobleme te help.

Luidens berigte het Meghan, wat tans swanger is met ʼn dogtertjie, in Kalifornië agtergebly. Buckingham-paleis het bevestig dat sy nie die verrigtinge sal bywoon nie.

“Die hertogin van Sussex is deur haar dokter aangeraai om nie te reis nie. Die hertog sal wel die begrafnis bywoon,” het ʼn woordvoerder vir Buckingham-paleis gesê.

Volgens People het Harry glo Sondag in Brittanje uit die VSA geland, waarna hy na Frogmore Cottage – sy en Meghan se huis in Brittanje – gereis het om in self-isolasie te bly tot die begrafnis plaasvind.

Harry se niggie, prinses Eugenie, haar man, Jack Brooksbank, en hulle nuwe babaseuntjie, August, woon tans in Frogmore Cottage op Harry en Meghan se uitnodiging.

Volgens The Times het die koningin vir Harry die verleentheid gespaar deur aan te kondig dat militêre uniforms nie gedra hoef te word op prins Philip se begrafnis nie.

Harry sou die enigste senior manskoninklike wees wat nie ʼn militêre uniform sou kon dra nie, aangesien hy verplig was om sy eremilitêre verpligtinge te laat vaar nadat hy uit sy amp bedank het.

Britte rou oor die dood van prins Pililp. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Prins Andrew, hertog van York, het ook vir ʼn opskudding gesorg nadat hy versoek het om ʼn militêre uniform na die begrafnis te dra. Hy het in November 2019 sy koninklike pligte laat vaar weens sy vriendskap met Jeffrey Epstein. Koningin Elizabeth het besluit dat alle senior manskoninklikes siviele drag moet dra.

Die geleentheid sal regstreeks uitgesaai word en Covid-19-protokol sal streng gevolg word, maar militêre personeel van die koninklike vloot, weermag en lugmag sal teenwoordig wees.

Volgens die paleis voldoen dié beplanning aan die hertog van Edinburgh se laaste wense. Lede van die publiek is egter versoek om weg te bly van die kasteel af, met die seremonie wat agter geslote deure sal plaasvind. ʼn Aanlyn boek waarin medelye uitgespreek kan word, is bekend gestel.

Die koningin het Dinsdag haar eerste amptelike pligte uitgevoer sedert haar man se dood. Intussen het lede van die koninklike gesin ook rare foto’s van prins Philip saam met onder andere sy kleinkinders gedeel.

Prins Philip het glo versoek dat ʼn minimale ophef van sy begrafnis gemaak word. Sy kis sal ʼn kort afstand van die St. George-kapel na die Windsor-kasteel vervoer word met ʼn Land Rover, wat prins Philip help ontwerp het.

Sy persoonlike vlag, wat sy Griekse herkoms en Britse titels verteenwoordig, sal daaroor gedrapeer word. Sy vlootpet en swaard sal bo-op geplaas word.

Die gewapende magte was baie belangrik vir die hertog, wat in die koninklike vloot gedien het, en hulle sal ʼn groot rol in sy begrafnis speel.

Dienspligtiges oefen vir die seremoniële optog by die Pirbright-weermagopleidingsfasiliteit in Woking, Surrey, vir die prins se begrafnis. ʼn Volledige kleedrepetisie vind vandag (Donderdag) plaas.

Die paleis het intussen ook bekend gemaak dat prins Philip se begrafnis weens die Covid-19-pandemie ʼn veel eenvoudiger en kleiner seremonie sal wees, met slegs 30 gaste wat die geleentheid sal bywoon.

Paleisamptenare het bevestig die begrafnis sal regstreeks uitgesaai word en vind Saterdag 17 April om 16:00 (SA tyd) by die St. George-kapel by Windsor-kasteel, wes van Londen, plaas.

Dit sal voorafgegaan word deur ʼn nasionale minuut van stilte.

Kyk hier na die regstreekse uitsending van die begrafnis:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Inkpot ·

Meghan kon voorheen van Engeland na Amerika reis terwyl sy swanger was met Archie.
Snaaks dat die dokters haar juis nou afraai om te reis na die hele Oprah debakel.
Sy weet sy is nie welkom in Engeland nie.

Vlooitjie ·

Elke swangerskap is anders, dalk mag sy rerig nie reis nie

Debbie ·

Hoe op aarde gaan Harry sy ouma en familie in die oe kan kyk na alles wat hy en daai vrou van hom kwyt geraak het? Sy vrou het net die hele familie se lewens kom omver gooi

Vlooitjie ·

Los die mense om begrifnis te hou. Die Harry en Meghan debakel hoort op die agtergrond. Ek is seker sy familie waardeer dat hy daar is en hy is sekerlik bly om daar te wees saam hulle.

KB ·

Hy was nie ons koninklike prins nie, dus stel ons nie belang nie…Ons is nie Engels nie. Gun hulle hul voorreg om hule eie ding te doen. Dis al wat hul verdien.

anko ·

Sy het moontlik arme Harry verraai want sy is die sterker persoonlikheid. Soos gesê word jy kry ‘n bang man en nie ‘n kwaai vrou nie:))

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.