Volhoubare oplossings vir Oekraïne gesoek

Pro-Russiese gewapendes

Pro-Russiese gewapendes

Terwyl die sterftesyfer in die ooste van die Oekraïne oploop, en die lughawe van Donetsk gesluit is, word binne die Oekraïne ook aan ‘n staatkundige oplossing gewerk.

Die man wat as die argitek van die planne vir staatkundige hervorming moet staan, is Volodymyr Groisman, ‘n adjunk-premier van die oorgangsregering in Kiëf. Die plan maak voorsiening vir die maksimale afwenteling van gesag na die streke en selfs munisipale vlakke, wat onder meer sekere belastingbevoegdhede insluit.

Groisman gebruik egter nog nie dieselfde term, federalisme, wat die Kremlin vir die eise van die hoofsaaklik Russies-sprekende oostelike dele ontwerp het nie.

Boonop is dit nog baie onduidelik oor wat die separatiste en Rusland onder federalisme vir die gebied verstaan. Die meeste waarnemers meen dit sal ook die reg insluit om tot ‘n groot mate buitelandse betrekkinge te bepaal, met die duidelike bedoeling dat minstens die Russies-sprekende gedeelte binne die Kremlin se invloedsfeer kan kom.

Intussen het kommandant Philip Breedlove van NAVO die vertroue uitgespreek dat Rusland nie die Oekraïne sal inval nie. Hy is egter oortuig daarvan dat spesiale Russiese eenhede in die Oekraïne bedrywig is, en die opstandelinge bystaan. Hy kan egter nie met sekerheid sê of dié spesiale magte daarvoor verantwoordelik is dat minstens drie helikopters van die weermag van die Oekraïne neergeskiet is nie.

Maandag het minstens dertig van die opstandelinge in gevegte met die regeringsmagte omgekom, terwyl Dinsdag ook reeds ‘n onbekende aantal slagoffers geëis het.

Bronne: Trouw, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.