ʼn Volkswagen-ingenieur wat ʼn sleutelrol gespeel het in die maatskappy se dieseluitlaatgasse-skandaal is Vrydag gevonnis.
Robert Liang (63) is tot drie jaar tronkstraf met ʼn boete van $200 000 gevonnis, ʼn swaarder straf as wat staatsaanklaers versoek het.
Liang het geweet die motorvervaardiger is besig om te kul en wou dit bedek, het regter Sean Cox van ʼn Amerikaanse distrikshof, tydens die verhoor in Detroit gesê.
“Die sameswering het bedrog gepleeg teenoor die Amerikaanse gebruiker en die fondasie van ons ekonomiese stelsel verwoes,” het Cox gesê.
Liang, wat moontlik na Duitsland gedeporteer kan word ná sy tronkstraf, wou nie Vrydag enigiets sê nie. Staatsaanklaers het tronkstraf van 36 maande en ʼn boete van $20 000 versoek.
Staatsaanklaers het gesê Liang was bewus daarvan dat Volkswagen sagteware gebruik om reëls oor uitlaatgasse te omseil op nagenoeg 600 000 dieselvoertuie. Sy prokureur het gesê hy was nie “gulsig of immoreel” nie, maar het net opdragte uitgevoer om sy werk te behou en sy gesin te ondersteun.
“Wat hier gebeur het, was verkeerd,” het Daniel Nixon, vir Liang, gesê. “Maar hy was nie die meesterbrein nie en hy was nie deur hebsug gemotiveer nie.”
Liang het verlede jaar skuld beken op een aanklag van sameswering om die regering te bedrieg en het ingestem om met ondersoekbeamptes saam te werk. Liang het die regter versoek om hom onder toesig vry te laat met 1 500 uur gemeenskapsdiens.
Hy is een van twee Volkswagen-werknemers wat skuldig gepleit het, alhoewel ander persone wat aangekla is, in Duitsland is en nie bereikbaar is nie.
Volkswagen en Amerikaanse omgewingsreguleerders het verlede maand ʼn plan aangekondig waar die motorvervaardiger meeste van die dieselvoertuie sou herstel wat betrokke was in die skandaal.
Volkswagen het erken dat die motors met onwettige sagteware verkoop is wat geprogrammeer is om uitlaatgasbeheerkontroles aan te skakel tydens laboratoriumtoetse en dit weer af te skakel wanneer die motor bestuur word. Ondersoekbeamptes het bepaal dat die voertuie meer as 40 keer die wetlike beperking op stikstofoksied uitlaat, wat tot asemhalingsprobleme vir mense kan lei.
Die maatskappy het sewe jaar lank hiermee weggekom totdat onafhanklike ondersoekbeamptes dit by die regeringsreguleerders aangemeld het.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
10 Kommentare
Née, dis die voet soldate, ek sal graag die opdraggewer wat “van niks weet nie” aan die pen sal wil sien ry. Voorsitter en besturende direkteur want n vis vrot van sy kop af ondertoe.
Ek haal my hoed af vir Amerika se regstelsel. Dis mos hoe dit behoort te werk !
Die anc regering behoord General Motors se top bestuur voor stok te kry want hulle het duidelik baie mense mislei met hul “goeie” voornemens met hul terug keer Suid Afrika toe na hulle in die apartheids era as gevolg van sogenaamde apartheid onttrek het uit die land.Hulle moes nooit toegelaat gewees het om terug te keer nie.
Chris as n besigheid sou jy bele in SA en jou geld hier los?
Wow daar is gevolge vir dade wat verkeerd is …maar nie in SA nie …hier moor, verkrag ,steel en brand jy wat jy wil en jy kom weg met alles …die NUWE SA …wigte en teenwigte wat toe nou nie so goed werk nie ne !