Volkswagen sluit tydelik Europese aanlegte

Foto: AP Photo/Jens Meyer

Volkswagen het Dinsdag aangekondig dat hy meeste van sy Europese aanlegte vir minstens twee weke gaan sluit weens onsekerheid oor die aanvraag na motors en verskaffers van onderdele te midde van die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19).

Die motorvervaardiger het gesê dis nie moontlik om ʼn betroubare vooruitsig te gee van vanjaar se wins nie.

Die maatskappy het egter gesê sy besigheid in China, ʼn pilaar van die maatskappy se inkomste, is besig om weer terug te keer terwyl al hoe minder gevalle hier aangemeld word en sy ambisieuse planne om vervaardiging van elektriese motors te vergroot, duur voort.

Herbert Diess, uitvoerende hoof van die maatskappy het die aankondiging oor die tydelike sluiting van die Europese aanlegte gemaak tydens die aanvang van die maatskappy se jaarlikse perskonferensie. Aldus die dpa-nuusagentskap het die maatskappy se verteenwoordigers gesê die laaste skofte sal Vrydag in meeste aanlegte plaasvind. Die maatskappy se fasiliteite in Italië het reeds gesluit.

Diess het gesê “verkope verhoog [in China] en die vertoonlokale is oop” ná Chinese owerhede opdrag gegee het dat maatskappye hul deure moet sluit, maar dit nou voorkom of die epidemie besig is om te verlangsaam in die land.

Die maatskappy het vroeër gesê hy verwag ʼn verhoging van 4% in verkope. Diess het intussen egter gesê 2020 sal “ʼn baie moeilike jaar wees”, aangesien die virus-uitbreking “talle onbekende uitdagings aan ons stel”.

Die maatskappy is steeds van voornemens om die ID.3 bekend te stel, ʼn massavervaardigde elektriese kompakmotor wat in Zwickau, Duitsland, vervaardig word. Die motor sal na verwagting later vanjaar op die mark beskikbaar wees.

Volkswagen het verlede jaar ʼn netto wins van €14,02 miljard aangemeld, 15% meer as in 2018. Inkomste vir die jaar het met 7% toegeneem tot €252,6 miljard.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stof ·

Sovêr my beperkte kennis strek, is dit mos nie Volkswagen wat die Corolla maak nie?

Gawie ·

Maroela, wil julle nie na julle vertaling kyk nie?
Die berig praat van die Volkswagen ID.3 as ‘n “elektroniese kompakmotor”. Die motor word in engelse berigte beskryf as ‘n “battery-electric hatchback”, “all-electric hatchback”, of “electric car”. Nêrens word na die motor verwys as “electronic” nie, alhoewel daar sekerlik baie elektronika betrokke is.
Ek neem aan die regte vertaling moet “elektriese kompakmotor” wees?

Megan Swart ·

Dagsê Gawie
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Stof ·

Iets wat my die afgelope tyd laat frons, is die feit dat daar heelwat voertuie aangebied word met of, elektriese aandrywings-opsies, of ten volle elektriese aandrywing. Hoe strook dit met verkeerswetgewing wat die gebruik van, onder andere, elektries-aangedrewe voertuie op deurpaaie verbied? Ek reken die gemiddelde padgebruiker wat ‘n elektriese voertuig sou aanskaf, sal wel van tyd tot tyd die behoefte aan die gebruik van ‘n deurpad he?

Jan ·

Ek ruik n rot…is volkswagen besig om voordeel aan china te gee en die europeers stadiaan van werk te ontneem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.