Vonnis vir vakansie-verkragter

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man is Vrydag 13 jaar tronkstraf opgelê vir ʼn reeks seksuele aanrandings op meisies tussen 6 en 17 jaar oud by kampterreine in Ardeche, Frankryk.

Sebastien Dutheil (33) het tereg gestaan op twee aanklagte van verkragting en nege vir poging tot seksuele aanranding of seksuele aanranding. Die slagoffers sluit drie buitelandse toeriste van België, Nederland en Duitsland in.

Volgens die hof het staatsaanklaers ʼn vonnis van 15 jaar versoek. Dutheil moet minstens twee derdes van die vonnis uitdien voordat hy vir parool oorweeg kan word. Die hof het ook gelas dat hy 10 jaar lank ná sy vrylating onder mediese waarneming geplaas moet word. Hy sal ʼn bykomende vyf jaar tronkstraf opgelê word indien hy nie aan dié voorwaarde voldoen nie.

Die aanvalle het tussen Junie en Augustus 2012 plaasgevind. Dutheil het glo in die aand by tente ingekruip en die meisies vasgebind voordat hy hulle aangerand het. Hy het ʼn masker gedra. Die slagoffers se ouers was gewoonlik in nabygeleë tente of in karavane.

Hy is in hegtenis geneem nadat die polisie DNS, wat hulle op die onderklere van ʼn jong slagoffer opgespoor het, verbind het aan ʼn vorige saak waartydens Dutheil skuldig bevind is aan seksuele aanranding.

Dutheil het gevolglik erken dat hy tydens die vakansieseisoen ʼn reeks misdade gepleeg het. Hy het glo soortgelyke misdade in 2010 en 2011 gepleeg. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.