Vonnisse opgelê agt jaar ná brand 242 eis

Reddingswerkers stel ondersoek in by Kiss-nagklub in Santa Maria (Januarie 2013) (Foto: Tarsila Pereira/Correio do Povo/AFP)

ʼn Hof in Brasilië het uiteindelik vier mense gevonnis vir hul rol in ʼn brand by ʼn nagklub byna ʼn dekade gelede wat die lewens van 242 mense geëis het.

Die brand het op 27 Januarie 2013 by die Kiss-nagklub in Santa Maria uitgebreek. ʼn Musiekgroep het die aand opgetree en fakkels aangesteek wat ʼn brand in die plafon veroorsaak het.

Twee eienaars van Kiss-nagklub en twee lede van die Gurizada Fandangueira-musiekgroep is skuldig bevind op aanklag van moord en poging tot moord. Die slagoffers was hoofsaaklik jong universiteitstudente.

Regter Orlando Faccini het die uitspraak op die tiende dag van ʼn emosionele hofsaak gelewer wat in Porto Alegre, die hoofstad van die staat Rio Grande do Sul plaasgevind het.

“Die beskuldigdes se aanspreeklikheid is hoog. Soveel lewens is nie net per ongeluk uitgedoof nie,” het hy gesê.

Klub-eienaars Elissandro Callegaro Spohr (38) en Mauro Londero Hoffmann (56) is onderskeidelik tot 22,5 en 19,5 jaar tronkstraf gevonnis.

Musiekgroep-lede Luciano Bonilha Leao (44) en Marcelo de Jesus dos Santos (41) is 18 jaar tronkstraf opgelê.

Die vier was ʼn paar maande lank in aanhouding voor hulle op borgtog vrygelaat terwyl hulle vir die verhoor gewag het.

Die regter, en sewe jurielede, het die getuienis aangehoor van 14 oorlewendes, 19 ooggetuies en die vier beskuldigdes.

“Die laaste keer wat ek gehardloop het, was om myself van ʼn gewisse dood te red,” het Kelen Giovana Leite Ferreira, ʼn oorlewende van die tragedie, gesê. ʼn Deel van haar regterbeen moes ná die voorval geamputeer word.

Devalni Rosso, nog ʼn oorlewende, het vir die jurie haar rug en arms gewys wat oortrek is met littekens van die brand. Ongeveer 50% van haar liggaam het brandwonde opgedoen.

Die staatsaanklaer het aangevoer die beskuldigdes het met “moontlike misdadige opset” opgetree, wat beteken dat hulle die risiko geneem het van die gevolge, selfs al het hulle nie bedoel dat dit moet gebeur nie. Dié strategie beteken langer vonnisse, soos wat die slagoffers se families en oorlewendes gehoop het.

ʼn Polisieondersoek het bepaal die brand het uitgebreek toe vonke van die fakkel, wat deur die musikante aangesteek is, die isolasiemateriaal in die plafon laat brand het. Dodelike walms is vrygestel en die venue is in ʼn dodelike valstrik omskep.

Alhoewel sommige persone in die brand omgekom het, het meeste van die jong slagoffers weens versmoring gesterf.

ʼn Ondersoek het bevind die venue het nie enige werkende brandblussers gehad nie en slegs twee deure om die besige dansvloer te ontruim. Die nooduitgang-tekens was ook nie duidelik sigbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.