Voorlopige ooreenkoms tussen Hollywood-skrywers, ateljees

Argieffoto (Foto: David Mark/Pixabay)

Stakende skrywers wie se staking Hollywood tot ʼn stilstand gedwing het, het Sondag gesê hulle het ʼn ooreenkoms met ateljees bereik.

“Ons het ʼn voorlopige ooreenkoms bereik oor basiese diensvoorwaardes vir 2023,” lui ʼn brief wat die Writers Guild of America aan lede gestuur het. Die ooreenkoms se finale weergawe moet nog saamgestel word.

“Ons kan met groot trots aankondig dat hierdie ooreenkoms buitengewoon is – met betekenisvolle winste en beskerming vir skrywers in elke afdeling van lidmaatskap.”

Die brief, wat AFP onder oë gehad het, bevat egter nie enige besonderhede van die ooreenkoms nie. Dit word nog uitgestryk.

Lede van die vakbond, wat vroeg in Mei begin staak het, sal die finale sê hê.

“Om dit duidelik te maak – niemand sal terugkeer werk toe totdat die gilde dit spesifiek magtig nie. Ons staak tot dan. Maar ons skort intussen WGA-optogte op.”

Lede van Sag-Aftra en hul ondersteuners tydens die staking in New York (19 Julie 2023) (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die staking deur die skrywers het die Amerikaanse ekonomie na verwagting reeds ongeveer $5 miljard (sowat R94 miljard) gekos, aldus ʼn beraming deur ekonoom Kevin Klowden van die Milken Institute.

Verskeie TV-programme is tot stilstand gedwing weens die staking, insluitend The Last of Us, Billions, Stranger Things, The Handmaid’s Tale, Hacks, Severance, Yellowjackets, Abbott Elementary en verskeie dag- en laatnaggespreksprogramme.

Buiten salarisse, was die skrywers ook besorg oor die impak van kunsmatige intelligensie op die bedryf.

ʼn Afsonderlike dispuut met akteurs duur intussen voort. Die Sag-Aftra-vakbond, met sy 160 000 lede, staak sedert middel Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.