Voormalige F1-baas sterf

Max Mosley (Foto: CARL COURT / AFP)

Max Mosley, die voormalige president van FIA, die beheerliggaam van Formule Een, is in die ouderdom van 81 aan kanker oorlede.

Die voormalige Formule Een-baas Bernie Ecclestone het dié nuus bevestig.

Mosley is in 1993 as president van die FIA aangestel nadat hy in verskeie administratiewe rolle in motorsport, waaronder Formule Een, gedien het. Dié voormalige renjaer het vir drie termyne as president gedien voordat hy in 2009 uitgetree het.

Ecclestone (90) het aan AFP gesê Mosley was vir hom soos ʼn broer.

Volgens Ecclestone het Mosley nie al die eer gekry wat hom toegekom het vir sy rol in motorsport nie.

“Hy wou opreg alles in sy vermoë doen om die sport toegankliker en makliker vir mense te maak.”

Die huidige president van die FIA, Jean Todt, het intussen in ʼn twiet gesê hy is “diep bedroef” ná die nuus oor Mosley se afsterwe. Volgens Todt het Mosley grootliks bygedra tot die opskerping van veiligheid op die renbaan.

ʼn Woordvoerder van Formule Een het Mosley as ʼn “groot figuur in die oorgang” van dié sport beskryf.

Mosley was die seun van die Britse fascistiese leier Oswald Mosley en Diana, een van die befaamde Mitford-susters.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.