Voormalige Ferrari-baas besoek Schumacher

Michael Schumacher en Jean Todt. Foto: Twitter.

In 2013 het die F1-legende Michael Schumacher ernstige kopbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe. Hoewel bitter min inligting oor sy toestand bekend is, sou hy vroeër ’n operasie ondergaan het om sy senuweestelsel te herstel.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en die Schumacher-familie het besluit dat hulle nie in hierdie tydperk die operasie sal oorweeg nie. Volgens The Guardian sal die operasie oorweeg word sodra die gesondheidsrisiko’s van die pandemie minder is.

Jean Todt, voormalige Ferrari-spanbestuurder wat ’n hegte band met Schumacher het, het verlede week die F1-legende by sy huis in Switserland besoek.

“Ek het Michael verlede week besoek en hy is steeds besig om sy stryd te voer. Ek hoop dat die wêreld hom ook weer eendag sal kan sien,” het Todt gesê.

Die 74-jarige Fransman beskou Schumacher as sy eie kind en in die 1990’s was Todt, toe die spanbaas, daarvoor verantwoordelik om die jong Schumacher agter die stuur van die rooi Ferrari te kry.

Schumacher het kort daarna vir vyf agtereenvolgende jare met die wêreldtitel weggejaag. Die Duitser is die suksesvolste renjaer in F1-geskiedenis. Hy is sewe keer as die wêreldkampioen gekroon, terwyl hy 91 wedrenne in sy loopbaan gewen het.

Die 35-jarige Lewis Hamilton is egter kort op sy hakke: Hy spog tans met 85 wedrenseges en ses wêreldtitels.

“Ek is baie lief vir Michael, maar dit is onmoontlik om te sê wie die beste renjaer van alle tye is. Daar is Juan Manuel Fangio, Jim Clark, Ayrton Senna en Michael. Jy kan eintlik net bepaal wie die beste van hul era was,” het Todt aan The Daily Mail gesê.

“Ek weet dat Lewis binnekort Michael se rekord kan verbeter. Hy het alles tot sy beskikking by Mercedes, maar ek gee rêrig nie om nie.

“Ek onthou toe ek in 2000 in Suzuka op die podium saam met Michael was. Hy het pas sy eerste titel saam met Ferrari gewen en ek het vir hom gesê dat ons lewens nooit weer dieselfde sou wees nie. Ons het alles bereik wat ons wou. Ná ’n ongeluk soos Michael s’n, maar dit saak of Lewis meer titels gewen het?”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stofdonkie ·

Die opskrif van die artikel is effe misleidend en skep die verwagting dat daar iets geskryf sou wees oor Schumacher se toestand. Eintlik handel die artikel meer oor hamilton wat op die punt is om Schumacher se rekors te breek as wat dit gaan oor Schumacher se toestand. Daar word nie woord gesê oor wat Schumacher se toestand is nie, is hy steeds in koma, is hy verlam kan hy praat?

Piet ·

Hy is nie in ‘n koma nie maar sukkel om te kommunikeer. Dis wat Todt na sy vorige besoek gesê het. Ek weet nie of hy verlam is nie maar het gelees hy kan nie (tans) loop nie.

Albert Willem ·

Ja dis nogal waar mens het gedink hulle sou inligting oor sy toestand gee

My Mening ·

Ek dink die rede hoekom daar nie veel oor Schumacher se toestand gesê word nie is omdat niemand regtig die ware toedrag van sake weet nie en die wat wel weet, rep nie ‘n woord nie.

Judge ·

Hamilton het omtrent sy hele loopbaan met die beste motor deelgeneem. Michael het ‘n middelmatige Ferrari in 5 jaar na die beste motor ontwikkel, Anders sou hy waarskynlik nog 4 kampioenskappe gewen het.(1 jaar het hy as gevolg van besering deel van seisoen gemis.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.