Voormalige student se skuldigbevinding gehandhaaf

Turner in September 2016. Foto: Dan Honda/Bay Area News Group via AP, File

ʼn Amerikaanse appèlhof het Brock Turner se aansoek vir ʼn nuwe verhoor van die hand gewys en sy skuldigbevinding aan seksuele aanranding en poging tot verkragting gehandhaaf.

Die appèlhof het bevind dat sy verhoor regverdig was. Turner, ʼn voormalige student aan die Stanford Universiteit, is in 2016 deur ʼn jurie daaraan skuldig bevind dat hy ʼn vrou wat onder die invloed van alkohol was en nie by haar bewussyn was nie seksueel aangerand het.

Die saak het wêreldwyd opspraak gewek nadat Turner tot ses maande tronkstraf gevonnis is. Turner se slagoffer het voor sy vonnisoplegging ʼn emosionele verklaring in die hof voorgelees.

Sy het vertel van die aanranding en die manier waarop sy deur ondersoekers behandel is. “In plaas daarvan dat ek tyd gehad het om gesond te raak moes ek tyd afstaan om die aand in ondraaglike detail te herleef sodat ek kon voorberei vir die advokaat se vrae wat indringend en aggressief sou wees en daarop gemik sou wees om my van stryk te bring en so gestel sou word dat dit my antwoorde sou manipuleer.”

Regter Aaron Persky het die staatsaanklaer se versoek vir lang tronkstraf verwerp en Turner tot ses maande tronkstraf gevonnis. Hy is in September 2016 vrygelaat nadat hy drie maande tronkstraf uitgedien het.

Die vonnis het tot verontwaardiging gelei met derduisende mense wat gemeen het die straf is te lig. ʼn Petisie is begin en miljoene mense het dit onderteken.

Turner het in Desember ʼn appèlaansoek ingedien en versoek dat hy ʼn nuwe verhoor kry aangesien die bewyse wat tydens sy vorige verhoor voorgelê is volgens hom nie sy skuldigbevinding geregverdig het nie.

Regter Franklin Elia het egter bevind daar was aansienlike bewyse om die skuldigbevinding te regverdig. Sy het daarop gewys dat Turner probeer weghardloop het toe twee studente hom gekonfronteer het oor die aanranding op die 22-jarige vrou. Hulle het hom agternagesit en op die grond vasgepen gehou totdat die polisie opgedaag het.

Turner woon buite Dayton, Ohio, saam met sy ouers. Hy sal lewenslank as ʼn seksoortreder geregistreer wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Denise ·

So hier word net die man skuldig bevind en kry ook n brandmerk lewens lank ek dink n saak het twee kante ????

M. Abeille ·

Sjoe Denise! Hierdie is ‘n redelike bekende saak – juis oor sy ligte straf. Die ander kant is gestel deur TWEE ooggetuies (manlike toeriste op fietse) wat hom op heterdaad betrap het.

Nettie ·

Okay, Denise, dink jy dan daar was twee verkragters. dié dat jy vra dat nét die man skuldig bevind word? Of dink jy die vrou het haarself verkrag/seksueel aangerand? Waaraan moes die vrou skuldig bevind geword het? Dronkenskap?

Net laas Maandag was daar ‘n program oor kollege verkragtings – sogenaamde ‘fraternity sexual abuse’ op Dstv Kanaal 171 – dieselfde geval van ‘n jong meisie wat ‘n partytjie by een van die mansstudente se huis bygewoon het, drank gevoer is en seksueel aangerand is, terwyl sy onder die invloed was.

Maak nie saak of ‘n vrou kaal loop, dronk of onder die invloed van dwelms of ‘mal’ is nie – dit gee GEEN MAN DIE REG OM HAAR TE VERKRAG NIE. GEEN WARE MAN VERKRAG IN ELK GEVAL NIE!!!!!!!!!

Andre Reinecke ·

@Denise, ek dink net die man is skuldig bevind omdat net hy skuldig was. Ek is seker die twee kante van die storie is gehoor, en juis daarom is hy skuldig bevind. Beweer jy dalk dat sy daarvoor gevra het?

Denise ·

Ek beweer niks ek is in elkgeval nie in staat om te oordeel nie ek maak ook foute !!!

Janet ·

“Seksoortreder se skuldigbevinding gehandhaaf”: daarsy, Maroela Media, ek het die kop vir julle reggemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.