Vragmotorbestuurder kan doodstraf kry ná migrante sterf

Homero Zamorano (Foto: Twitter)

Die bestuurder van die vragmotor met sleepwa waarin 53 migrante vroeër die week dood is, het Donderdag in die hof verskyn.

Daily Mail berig Homero Zamorano (45) van Texas is Woensdag in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by mensehandel.

Die sleepwa van die vragmotor is Maandag vroegaand verlate langs die pad aan die buitewyke van San Antonio, Texas, gekry.

Aanvanklik is berig dat 46 liggame in die sleepwa gevind is, maar hierdie getal het teen Woensdag tot 53 gestyg. Daar word nog 11 mense in die hospitaal behandel.

(Foto: Jordan Vonderhaar/Getty Images/AFP)

Dit word beskou as “die dodelikste voorval van mensehandel” op die Amerikaans-Mexikaanse grens.

Temperature in San Antonio het Maandag tot 39 °C gestyg en in die sleepwa was daar geen tekens van ʼn werkende lugversorger nie. Paramedici het gesê dat talle van die slagoffers aan hitte-uitputting en dehidrasie gely het.

The New York Post berig Zamorano het in ’n nabygeleë bos weggekruip nadat hy probeer het om San Antonio-polisiebeamptes te ontduik deur hom as ʼn oorlewende voor te doen. Hy was glo onder die invloed van dwelms.

Polisiebeamptes van San Antonio is na Zamorano se skuilplek gelei en het hom daar aangekeer.

’n Dag later is Zamorano se medebeskuldigde, Christian Martinez (28), in Palestina, Texas, in hegtenis geneem. Hy word aangekla van die sameswering in die vervoer van onwettige immigrante.

Martinez het Woensdag in die hof in Tyler, Texas, verskyn.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat Zamorano en Martinez met mekaar voor die voorval gekommunikeer het.

Federale aanklaers het gesê Zamorano en Martinez staan tereg op aanklagte wat moontlik lewenslange tronkstrafvonnisse of selfs die doodstraf kan beteken indien hulle skuldig bevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Plotman ·

Hy het vooraf beplan om die trok te ry en was bewus van risiko en gevolge en is dus strafbaar

Henri ·

Ek hou van Texas se hoogste straf. Hoekom moet belastingbetalers se geld bestee word om sulke gemors van ‘n warm bed en drie maaltye per dag te voorsien?

Perdeby ·

Maak so op slae in SA hoekom? Dit het nie in SA gebeur nie, en die drywer hier sou nie eers jaar gekry het nie.

Johan ·

53 dood, klink soos een dag se moord syfer in die Piesang Republiek.

Jaco ·

Dis vreemd dat sulke mensehandel en onwettige immigrasie nog steeds in Amerika voorkom. Dit het gebeur terwyl “die rassistiese Trump” president was en hy onwettige immigrasie met 90% laat afneem het. Die hoogheilige Demokrate het hom gedurig gekritiseer. So nou dat hulle aan bewind is, behoort Amerika se grense mos oop te wees en maklik om net daar in te stap, sonder duur onwettige gesmokkel. Baie vreemd. Kwaai dubbele standaarde van die hoogheilige Demokrate.
Ek het nogal gedink die Demokrate se mooi oop immigrasiebeleid kan tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na sy vriend Joe Biden se “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.