Vragvliegtuig stort neer in Rusland

Antonof An-12-vragvliegtuig van die Russiese weermag (Foto: Fedor Leukhin via Wikimedia Commons)

ʼn Russiese vragvliegtuig met sewe persone aan boord het in die ooste van Siberië neergestort en aan die brand geslaan, het die ministerie van nooddienste Woensdag gesê.

Die Antonof An-12-vliegtuig “het van die radar verdwyn” tydens sy nadering buite Irkoetsk, het die ministerie op sy Telegram-kanaal gesê.

Volgens voorlopige inligting was sewe persone aan boord en het van Jakoetsk gereis. ʼn Reddingspan is reeds op die toneel. Die vliegtuig het aan die brand geslaan.

Antonof-vliegtuie is tydens die Sowjet-era vervaardig en word steeds in die voormalige Sowjet-Unie gebruik vir siviele en militêre vervoer. Hulle was die afgelope paar jaar in verskeie ongelukke betrokke.

Rusland se grootste lugrederye het reeds begin om van verouderde Sowjet-vliegtuie ontslae te raak in ruil vir meer moderne vliegtuie. Swak instandhouding en lae veiligheidstandaarde duur egter voort en die land het al verskeie dodelike vliegtuigrampe beleef.

Vyftien mense is in Oktober dood toe ʼn L-410-vliegtuig met valskermspringers aan boord in die sentrale republiek van Tatarstan neergestort het. Ses mense is in September dood toe ʼn An-26-vragvliegtuig buite Chabarofsk neergestort het. ʼn An-26 het in Julie oor Kamchatka neergestort en 28 lewens geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

Een van ons vennote. Hoop nie die tegnici is iewers hier betrokke nie want dan kan ons die ergste verwag.

Niklaas ·

Hul kan dankbaar wees dat hul vliegtuie nog opstyg daar. By ons SAL spulletjie vorder dinge maar stadig en ek is bang vir daardie eerste lang vlugte na Europa.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.