Vredesgesprekke duur voort, maar bedreiging nie verby

‘n Inwoner stap verby ‘n beskadigde Russiese tenk in die beleërde stad Trostianets, naby die Russiese grens. Vredesgesprekke word Woensdag voortgesit. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Oekraïne en sy Westerse bondgenote het Woensdag nog gewag vir enige tasbare tekens dat Moskou sy weermagbedrywighede rondom Kiëf “aansienlik” gaan afskaal, soos die land in vredesgesprekke onderneem het.

Daar is egter heelwat skeptisisme nadat Washington gewaarsku het Moskou is bloot besig om sy troepe te herposisioneer en nie besig om hulle aan die streek te onttrek nie.

Albei kampe in die stryd het die vredesgesprekke in Istanboel as “sinvol” en “positief” bestempel.

Turkye se president, Recep Tayyip Erdogan, het die samesprekings gister bygewoon.

Die jongste vergadering is in skerp teenstelling met ʼn vorige rondte besprekings oor vrede en het die hoop op vrede laat opvlam ná ʼn maand lange oorlog wat duisende lewens geëis en miljoene mense ontwortel het.

Rusland se adjunkminister van verdediging, Alexander Fomin, het vandeesweek gesê vredesgeprekke het tot vordering gelei oor die vraag van Oekraïne se “neutraliteit en nie-kernkragstatus” – twee van Moskou se sentrale eise.

Fomin het ook gesê Rusland gaan sy militêre bedrywighede in die omgewing van Kiëf en Tsjernihiv aansienlik afskaal.

Oekraïne en Westerse regerings het oënskynlik ʼn benadering van “sien is glo” hieroor ingeneem en die Pentagon voer aan Rusland het bloot ʼn klein getal van sy magte naby Kiëf herposisioneer, terwyl hy moontlik voorberei vir ʼn “groot aanval” elders.

Die “grootste getal” Russiese magte rondom Kiëf is steeds daar, het John Kirby, ʼn woordvoerder van die Pentagon, gesê.

“Ons het nog net ʼn klein groep van Kiëf sien wegbeweeg, hoofsaaklik na die noorde.

“Rusland het misluk in sy doelwit om Kiëf oor te neem. Dit beteken egter nie die bedreiging vir Kiëf is agter die rug nie.”

Die Oekraïense weermag het ook gewaarsku dat die sogenaamde onttrekking van Russiese magte rondom Kiëf en Tsjernihiv “waarskynlik ʼn rotasie van individuele eenhede is wat daarop gemik is om te mislei”.

Oornag is lugaanvalsirenes verskeie kere in die Oekraïense hoofstad gehoor en dit het tot vanoggend voortgeduur.

Dood in Marioepol is ‘oral te sien’

Nagenoeg 160 000 mense is steeds in die verwoeste stad Marioepol vasgekeer met min kos, water of medisyne.

Diegene wat wel kon wegkom, het die stad beskryf as ʼn stad “waarin dood oral te sien is”.

“Ons het ons bure begrawe. Ons het dood oral gesien, my kinders moes dit aanskou,” het ʼn inwoner van die stad wat twee weke gelede kon vlug, gesê. Sy keer nou terug na Marioepol om voorraad te neem vir diegene wat steeds vasgekeer is en om ander te help vlug.

Russiese magte het die stad die afgelope ruk omsingel en sy voorgesette en lukrake bombardering het glo minstens 5 000 lewens geëis, met sommige wat meen die dodetal is eerder nader aan 10 000.

Frankryk, Griekeland en Turkye het probeer verseker dat burgerlikes die stad verlaat.

Versigtig optimisties

‘n Brandbestryder stap deur die puin in die stad Trostianets. Skade aan infrastruktuur in Oekraïne word op miljoene rande beraam. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Oekraïne se president, Wolodimir Zelenski, het die “positiewe” tekens versigtig optimisties verwelkom, maar sê Oekraïne gaan nie sy verdedigingspogings verminder nie.

Die vredesgesprekke sal na verwagting aanlyn voortduur, maar Zelenski sê in hierdie stadium doof dit nie die ontploffings of Russiese aanvalle uit nie. Hy het ook gevra dat sanksies teen Moskou nie opgehef word totdat die oorlog agter die rug is nie.

Die land se Westerse bondgenote het laat blyk dat hulle in hierdie stadium geen planne het om maatreëls te verslap wat Rusland vir sy inval moet straf nie.

“Ons sal sien of hulle dit waarop hulle sinspeel, deurvoer,” het pres. Joe Biden van die VSA gesê nadat hy met die leiers van Engeland, Frankryk, Duitsland en Italië vergader het.

België, Ierland en Nederland het Dinsdag aangekondig dat altesame 42 Russiese diplomate uit hul lande geskop gaan word, terwyl Moskou op sy beurt tien diplomate uit Estland, Letland en Litaue geskop het.

Nietemin word die gesprekke in Istanboel beskou as die eerste tekens van vordering om die konflik te stuit. David Arakhamia, een van Kiëf se onderhandelaars, sê voldoende vordering is reeds gemaak om nou ʼn vergadering tussen die presidente van Rusland en Oekraïne te belê.

Die optimisme het Europese en Amerikaanse aandeelmarkte laat kop optel en die olieprys het reeds gedaal. Die Russiese roebel het ook met 10% teen die dollar versterk.

Altesame 20 000 mense is volgens Zelenski na raming reeds in die konflik dood, hoewel die syfer nie onafhanklik bevestig kon word nie.

Benewens die verlies aan menselewens word die koste aan skade aan Oekraïne se infrastruktuur weens die Russiese inval op nagenoeg $63 miljard geraam, het ABC News berig.

Waar daar onlangs nog sakeondernemings, huise, hospitale en skole gestaan is, is nou net reusehope rommel en stukke beton oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Jacques ·

Ek het die teks versigtig ‘n paar keer gelees, maar ek sien geen melding van die dodetal wat aan bedrywighede van Oekraieniese magte gekoppel kan word nie?

Sê my, hoe kry die Oekraieniese leër dit reg om om almal mis te skiet?

Anna-marie ·

Volgens Rusland het daar nou 1351 Russies soldate gesneuwel en ongeveer 14 000 Oekraiense soldate.

Jacques ·

En hoeveel burgerlikes het as gevolg van Oekraieniese bombardement in Donesk en Donbass gesterf die laaste 8 jaar?

Niemand steur hulle blykbaar aan die angs en verwoesting wat daai mense moes ondervind nie, want daars blykbaar het een slagoffer hier ter sprake – die een wat die media aan ons verkoop.

Luister ·

Het jy geweet Rusland was aktief betrokke in die Donbas streek? So moenie dink hulle is onskuldig nie. Mariopol is ‘n stad in die Donbas streek. Lyk dit vir jou of die mense nou bevry word daar?

Luister ·

Die Oekrainse leër hoef nie na huise en geboue te skiet nie. Hulle skiet na die vyand se tenks, vliegtuie en ander voertuie. Dit kry hulle nogal raakgeskiet.

Anna-marie ·

Poetin se plan was nie om Kiëf oor te neem nie, sy plan was die de-nazifisering van die Donbas. Die doel met Kiëf was om ‘n groot deel van die Oekraiense weermag daar vas te pen sodat daar minder Oekraiense soldate sal wees in die Donbas streek, Die neo-nazis voer al vir 8 jaar oorlog teen die Russiese inwoners van die Donbas. Ongeveer 14 000 ia al dood in hierdie konflik.

Luister ·

Die 14000 waarna jy verwys, is die totale dodetal in die Donbas streek soos op Jan 2021 wat separatiste, oekrainse weermag en gewone burgers insluit. Dit is in elk geval ‘n getal wat deur westerse propoganda daar gestel word, so hoekom jy dit glo, verstaan ek nie.
Die neo-nazis waarna jy verwys is ‘n klein groepie onrus stokers, baie soos die destydse AWB in ons eie land. Hulle verteenwoordig nie die Oekrainse weermag nie.

andre ·

Die AZOF bataljon werk saam met die weermag,die Westerse media weerhou dit net

Anna-marie ·

Dit is hierdie Azov bataljon wat die Neo-Nazi’s is. Hulle het glo tot swastikas op hul liggame getattoëer. Hulle is nou min of meer almal in ‘n “Couldren” omsingel. Hul water, kos en brandstof is op. Die Russiese- en Chechens soldate gaan geen genade vir hulle hê nie.

Luister ·

Dit is goed en wel, maar los die res van Oekraine dan uit. Net soos die destydse AWB, dink Azov dat hulle veg vir hul vaderland.

MT ·

Vreemd dat jy so goed vertroud is met die Azov moordbendes se versugtinge.

A ·

Die rede vir die aanval, volgens die top denkers van hierdie webblad is:

a) Ont-nazi-fiseering
b) n Skootrekenaar
c) Korrupsie
d) Bio laboratoriums
e) Nuwe wêreld orde te beveg
f) Want Oekraïne wou aan NAVO behoort
g) Want Oekraïne wou aan EU behoort

In plaas daarvan om lang kommentaar te lewer, kies net die letter en spaar ons.

Anna-marie ·

Gaan kyk op Youtube na The Duran. Beste inligting oor die oorsake vir die oorlog in die Oekraiene.

Luister ·

Wil jy vir my sê dat YouTube (‘n westerse maatskappy) dit toelaat dat nie-westerse propaganda versprei word? Dit klink te veel na vryheid van spraak, anders as in Rusland.

Jacques ·

Sê my, hou die lyding wat die Russiese enklaves ondervind het die laaste 8 jaar as gevolg van Oekraieniese bombardement, geen betekenis vir jou in nie?

A ·

@jac

h) Want Russe in die Oekraïne ly

Dankie vir die nuwe verskoning.

Luister ·

En wat van die Russiese bombardement huidiglik op die Donbas streek en veral op Mariopol wat ‘n groot stad in die Donbas streek is? Is dit van enige betekenis vir jou?

Jacques ·

Die Oekraïners in Marioepol is daar om die wegbreek-republieke namens die Oekraine te bestuur.

So, hulle getalle is maar klein en bestaan meestal uit weermaglede en administrateurs. Die oorgrote meerderheid is Russe wat nie noodwendig jou opinie van die “bedreiging” deel nie, veral nie as mens hulle stemrekord in gedagte hou nie (hierdie mense WIL vry wees van Oekraieniese oorheersing).

Bg is soos om kinders te probeer verduidelik dat kersvader nie bestaan nie….. *sug*

Anna-marie ·

@ Luister, Poetin stel nie belang in die weste van Oekraiene nie. Die Russiese weermag het wel messiele op Lviv geskiet om ontslae te raak van die brandstof en wapen depo van die Oekraiense weermag.

Thom ·

Poetin kry slae __ sy stories gaan nou elke 5 minute verander.

Kobus ·

Na aanleiding van die onlangs artikel van “nie in Ons naam nie” is daar heelwat ANC en EFF ondersteuners wat kommentaar lewer pro Putin. Dieselfde Putin wat vir weke almal verseker het dat sy weermag nie Oekraïne Sal inval nie, maar net besig is met militere oefeninge, toe vertel het hy gaan die Oekraïne denazify ( begin by hul president wat n jood is) en dat Oekraïne se mense hul met ope arms gaan verwelkom ( ek het seker die Blomme en omhelsing gedeelte gemis). Putin het alle geloofwaardigheid verloor, waarom hom nou glo, hy kan bly wees hy is nie Pinocchio nie.

Marthinus W ·

Die “Russiese tenk” op die foto is eintlik n howitzer (kanon), soos on G6.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.