Vreugde van korte duur ná staatsgreep in Soedan

Omar al-Basjir. (Foto: ANA)

Soedannese het ʼn hoë prys betaal in die vorm van bloedvergieting en waagmoed vir die omverwerping van die Omar al-Basjir-regime tydens ʼn militêre staatsgreep wat Donderdag in Soedan plaasgevind het.

Die ontsetelde president het in 1989 deur middel van ʼn staatsgreep aan bewind gekom en het drie dekades lank Soedan met ʼn ystervuis regeer. Basjir is uiteindelik verwyder ná maandelange teenregeringsprotesaksies, met die weermag wat hom die rug toegekeer en kant gekies het vir diegene wat hom uit die kussings wou lig.

Die weermag het in ʼn verklaring wat op die televisie uitgesaai is ʼn drie maande lange noodtoestand afgekondig. Daar is ook ʼn militêre raad aangewys wat die magsoorgang in die volgende twee jaar sal bestuur.

Aktiviste dring egter daarop aan dat die weermag so gou moontlik die regeringsmag aan ʼn burgerlike regering oorhandig. Dit veroorsaak vrese dat skermutselings opnuut tussen betogers en die weermag kan uitbreek aangesien opposisie-aktiviste die drie maande lange noodtoestand en planne vir ʼn militêre oorgangsregering verwerp het.

Sudan Tribune berig ondanks die aanvanklike euforie oor Basjir se gedwonge bedanking, veral in die hoofstad Khartoem, is daar nou twyfel by opposisiemagte wat weier om met die weermag saam te werk. Gevolglik het betogings Donderdag voortgeduur.

Nadat Awad ibn Auf, minister van verdediging, gister amptelik op televisie die omverwerping van die vorige regering aangekondig het, het tienduisende gefrustreerde Soedannese die militêre staatsgreep as ʼn klug bestempel en gesê dieselfde mense teen wie hulle in opstand is, dien op die sekuriteitskomitee.

Omar al-Degair, die leier van die opposisie, die Sudanese Congress Party (SCoP), het gesê sy party sal nie “die diefstal van die revolusie” toelaat nie en het sy teleurstelling in die gebeure uitgespreek. Hy het aangevoer die weermag se verklaring is niks meer nie as ʼn poging om Basjir se regime te dupliseer.

Betogers naby die militêre hoofkwartiere in Khartoum, Soedan [9 April 2019]. (Foto: AP)

“Ons verwerp die samestelling van ʼn militêre raad. Die leierskap van die gewapende magte moes ons gekontak het om ons siening te kry oor die toekoms van Soedan, maar hulle het hul besluit alleen geneem en daarom verwerp ons dit namens die mense van hierdie land en sal ons voortgaan om die strate in te vaar,” het hy gesê.

Die Soedanse Professionele Vereniging, wat die protesaksies koördineer, het ook die minister van verdediging se verklaring verwerp en ʼn beroep op betogers gedoen om voort te gaan met hul protesaksie totdat “wesenlike verandering” bereik is.

Amnestie Internasionaal het intussen ook die bekommernisse van die opposisie beaam. Kumi Naidoo, die organisasie se sekretaris-generaal, het gesê hoewel gister se gebeure in Soedan ʼn wekroep vir wêreldleiers moet wees wat dink hulle kan burgers van basiese regte ontneem, is die organisasie bekommerd oor die reeks van noodmaatreëls wat nou aangekondig is.

“Soedan se militêre owerhede moet verseker dat noodwette nie gebruik word om mense se regte te ondermyn nie. Hulle moet eerder nou die aanval op menseregte wat Basjir se 30 jaar aan bewind gekenmerk het in die verlede laat,” het Naidoo gesê.

“Die oorgangsowerhede moet al die nodige stappe doen om ʼn vreedsame oorgang van mag in Soedan te verseker. Dit beteken om die reg tot uitdrukking en samekoms te respekteer en ʼn einde te maak aan ʼn era van bloedvergieting en onderdrukking in hierdie land.”

Basjir, wat volgens die weermag “in ʼn veilige plek in aanhouding is”, word steeds deur die Internasionale Strafhof gesoek vir oorlogsmisdade en volksmoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries du Toit ·

Hierdie diktatorskap en menseregte vergrype le nog vir ons ook voor. Die ANC regeer al 25 jaar en al waaroor hulle praat is die eiendom en besittings van die skrale minderheid in die land. Gee ons ook 25 jaar en ons sal ons eie welstand en toekoms verseker

Ben Prinsloo ·

Stuur van ons soldate om Omar te gaan help. Die regering is hom mos goedgesind.

Johan ·

Nog n Zim. Waar die gesig verander maar die regering bly dieselfde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.