Vroeë Kersfees ná fout met fabriek se salarisbetalings

Die “vrygewige” staalfabriek is geleë in die stad Charleroi, sowat 50 km suid van België se hoofstad, Brussel. Foto: Google Maps

Sowat 230 werknemers van ʼn staalfabriek in België het ʼn onverwagte meevaller gekry toe hul werkgewer op betaaldag per ongeluk amper R500 000 te veel aan hulle elkeen oorbetaal het.

Volgens die gelukkige werknemers het party die geld, wat weens ʼn boekhoukundige fout verkeerdelik aan hulle oorbetaal is, blitsvinnig verlede naweek uitgegee, berig die Belgiese dagblad Het Laatste Nieuws. Hulle het glo gemeen dis ’n enorme vroeë Kersbonus.

“Ek was geskok toe ek sien hoeveel my rekeningsaldo is,” het ʼn werknemer aan die Belgiese media gesê. Hy kry gewoonlik elke maand ʼn salaris van nagenoeg R26 000, maar verlede Vrydag is sowat R510 000 in sy rekening inbetaal.

“Maar dit was duidelik dat dit ʼn fout was; dus het ek niks met die geld gedoen nie,” het die eerlike werknemer vertel.

Toe die fabriek sy fout agterkom, het die werknemers e-pos gekry waarin hulle vriendelik dog dringend versoek is om die geld dadelik aan hul werkgewer terug te betaal. Party het die aanmaning eers die Maandag gesien.

Die totale bedrag wat verkeerdelik uitbetaal is, beloop sowat R113 miljoen. Na verwagting sal dit baie swaar gaan om dit alles terug te kry.

Iemand wat vertroud is met die fabriek se dilemma, het die afgelope week aan die media gesê: “Die probleem is dat enkele werknemers ʼn deel van die geld uitgegee het. Hulle het casino toe gegaan, terwyl van die ander se skuld outomaties afbetaal is as gevolg van beslagleggingsbevele teen hulle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter ·

Klink so half vir my asof daar n oud VBS beampte by betrokke was!!

Sieg ·

Ai kan my firma nie ook so foutjie maak nie en vergeet daarvan nie.

Oom Walker ·

Van wanner af waarom betaal hierdie fabriek in België sy werkers in Rande?

IK ·

Dis in Rand sodat ons dom drommels dit ook kan verstaan.
Jare gelede is met my salarisverhoging ook ‘n aansienlike fout gemaak. Nodeloos om te sê dat ek dadelik dit laat regstel het.

Spark Plug ·

In Suid Afrika word daar ook elke dag sulke “foute” gemaak maar hier word die geld nie terug gevra nie. Hulle noem dit “skenkings” en jy kry dit as die 1 vir die ander 1 gunsies doen wat meer skenkings inbring. Gewoonlik betaal ons self onwetend vir die skenkings

alida ·

In SA word biljoene onregmatig aan sekere mense betaal. Niemand vra dit terug nie, niemand het gewetensbesware nie, niemand word vervolg nie en NIEMAND gaan tronk toe nie. Dit is die crux van die saak.

charmaine ·

In SA word sulke “foutjies” deur die belasting betaler terug betaal.

honourable member ·

Hierdie land is so korrup, ek wonder hoeveel sulke “foute” gebeur nie elke maand in sekeres se bankrekeninge nie.

Spark Plug ·

Dit voel soms vir my of almal sulke foutjies in hulle bank rekeninge kry behalwe ek

Nettie ·

@Spark Plug – ek stem: al my kollegas kan Portugese Eilande toe gaan, nuwe karre koop, huise afbetaal, gaan uiteet …….. dit is net ek wat met R12K per maand moet wroeg om deur te kom.

Nettie ·

Hond se dinges asof ek daai geld gaan teruggee! Dit is mos die firma se skuld dat hulle my te veel betaal het …………..

Aan die ander kant, kry ek dan dalk vir die volgende 40 maand GLAD nie ‘n salaris nie ……….. nee wat, hulle moet maar die geldjies weer terugvat; ek soek maar net my maandelikse salaris, dankie en asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.