Vrou (43) halfpad uit vliegtuigvenster ‘gesuig’

‘n Foto wat na die noodlanding van die vliegtuig geneem is (Foto: Facebook via Marty Martinez)

ʼn Vrou van Nieu-Mexiko in die VSA is Dinsdag dood toe die linkerenjin van ʼn Southwest Airlines-vliegtuig onklaar geraak het, ʼn venster van die vliegtuig stukkend geslaan het en sy byna heeltemal by die venster uitgeruk is.

Die nuuswebwerf CBS berig dié vliegtuig wat van New York na Dallas onderweg was, moes noodgedwonge ʼn noodlanding in Philadelphia maak nadat metaaldele van die foutiewe enjin teen die kajuit vasgeskiet het.

Passasiers het aan Sky News vertel die vrou, geïdentifiseer as Jennifer Riordan (43), was in ʼn stadium tot by haar middel by die venster “uitgesuig” voordat ander passasiers haar te hulp gesnel en in die kajuit teruggetrek het. Sy is later dood.

Marty Martinez, een van die 149 passasiers op die vlug, het aan CBS vertel daar het “chaos” in die kajuit ontstaan nadat een van die vliegtuigenjins “ontplof” het. “Die gebreekte venster het veroorsaak dat al die suurstof uit die kajuit ontsnap het,” het hy gesê. “ʼn Vrou was ernstig beseer, daar was oral bloed.”

‘n Foto wat na die noodlanding van die vliegtuig geneem is (Foto: Facebook via Marty Martinez)

Martinez het vertel talle passasiers het die vrou te hulp gesnel terwyl sommige onsuksesvolle pogings aangewend het om die venster weer te seël. “Die suurstofmaskers het onmiddellik ontplooi nadat die enjin ‘ontplof’ het. Dit het byna gevoel asof die vliegtuig vryval. Ons het die kajuitbemanning sien huil en geweet dit is baie ernstig. Al waaraan ek kon dink was my familie en vriende. Dit was angswekkend.”

ʼn Regstreekse video wat Martinez ten tyde van dié voorval op Facebook gedeel het, het sedertdien soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Volgens hom was daar WiFi-konneksie op die vlug wat hom toegelaat het om dié video te deel. “Ek het gedink ek was besig om die laaste oomblikke van my lewe vas te vang,” het hy gesê.

Amanda Bourman, ʼn passasier, het aan Associated Press gesê dit was die “ontstellendste ervaring” wat sy nóg in haar lewe beleef het. “Daar was ʼn paar passasiers wat sterk probeer wees het en aan almal gesê het: ‘Dis oukei! Ons kan dit doen!’”

“Ek onthou net dat ek aan my man se hand vasgeklou het. Ons het gebid en gebid en gebid. My enigste gedagtes was by my dogters; ek wou hulle net druk en wou nie hê hulle moet sonder ouers grootword nie.”

ʼn Voorlopige ondersoek het glo vasgestel dat van die metaal in die enjin verswak en as gevolg daarvan begin kraak het. Die ondersoek na die voorval duur steeds voort. Geen ander beserings is aangemeld nie.

‘n Foto wat na die noodlanding van die vliegtuig geneem is (Foto: Facebook via Marty Martinez)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jane ·

Goeie hemel maar dit is scary en hartseer. Dit wys my maar net as dit jou tyd is is dit jou tyd .. daar is 149 mense in ‘n vliegtuig en dit tref EEN vrou en EEN vrou is oorlede .. Mag haar familie berusting vind . geen vliegtuigongeluk is ooit goeie nuus nie .. ek is net bly die ander het oorleef maar ek het hernude KOMMER oor die feit dat die engin losgekom het ..die goed moet tog beter as dit gecheck word . . klink asof dit reeds gekraak was?? SJOE.

Gemaskerde Sopbeen ·

Jane? En as die pilot se “tyd” is? Wat sê jy dan vir die ander 148 mense?

Landi Slatter ·

Dagsê Drikus

Dankie vir jou kommentaar. Ons verwys jou graag na die eerste sin: “ʼn Vrou van Nieu-Mexiko in die VSA is Dinsdag dood toe die linkerenjin van ʼn Southwest Airlines-vliegtuig onklaar geraak het, ʼn venster van die vliegtuig stukkend geslaan het en sy byna heeltemal by die venster uitgeruk is.” Die vrou is dus tydens die voorval oorlede.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Griet ·

Die “pilot” was ‘n vrou. ‘n Voormalige lugmag vlieënier, Tammie Jo Shults.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.