Vrou (47) by dieretuin deur renoster gegaffel

Kai die witrenoster (Foto: Facebook via Mogo-dieretuin)

ʼn 47-jarige vrou van Nieu-Suid-Wallis in Australië is Woensdag na ʼn hospitaal gehaas nadat sy by ʼn dieretuin deur ʼn witrenoster gegaffel is.

Sally Padey, die eienaar van die Mogo-dieretuin waar die voorval plaasgevind het, sê die vrou, ʼn senior bewaarder, het nie lewensgevaarlike beserings opgedoen nie. Volgens mediaberigte het die renoster die vrou se linkerarm deurboor en het sy moontlik ʼn fraktuur aan dié arm opgedoen.

Padey het gesê die voorval het gebeur tydens ʼn “daaglikse roetineprosedure” met die renoster wat as Kai bekend staan.

Die vrou is volgens haar na die Canberra-hospitaal in die suidooste van die land geneem. Volgens Padey is “die renoster en die vrou oukei”.

“Hoewel alle veiligheidsvoorsorgmaatreëls geneem word om die risiko vir [sulke tipe voorvalle] te verminder, kan ongelukke van tyd tot tyd gebeur wanneer ʼn mens met dié tipe groot soogdiere werk,” het sy gesê.

Padey het gesê die dieretuin beoog om sy standaardbedryfsprosedures te hersien. Sy het bevestig dat ʼn interne ondersoek na die voorval van stapel gestuur is.

Kai en Jabari, die ander witrenoster wat deur die dieretuin aangehou word, is albei sedert 2015 by die dieretuin. Albei renosters is 11 jaar oud.

ʼn Volwasse witrenosterbul het gemiddeld ʼn massa van 2 000 – 2 400 kg en ʼn witrenosterkoei het ʼn massa van tussen 1 400 – 1 600 kg. Die witrenoster het ʼn skouerhoogte van sowat 1,8 m.

Bron: ABC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ena ·

Bly renoster se kind is okay
..en nie van kant gemaak omdat hy sy territories beskerm het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.