Vrou (92) moor glo seun wat haar na ouetehuis wil stuur

Anna Mae Blessing (Foto: Maricopa County-polisie)

ʼn 92-jarige vrou van Maricopa County in die Amerikaanse deelstaat Arizona het glo haar 72-jarige seun koelbloedig vermoor omdat hy haar na ʼn versorgingsoord wou stuur.

Anna Mae Blessing is volgens die BBC dié week in hegtenis geneem kort nadat die voorval op 2 Julie in Fountain Hills plaasgevind het.

Blessing, wat volgens hofdokumente saam met haar seun en dié se vriendin gewoon het, het na bewering oomblikke voor die moord aan hom gesê: “Jy het my lewe geneem, so ek neem joune.”

Die hofdokumente wys glo daarop dat die 92-jarige se seun haar na ʼn versorgingsoord wou stuur omdat dit “moeilik geraak het om saam met haar te leef”.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê Blessing het na bewering twee vuurwapens in haar japon versteek voordat sy haar seun in sy slaapkamer gaan konfronteer het. “Sy het glo tydens die woordewisseling ʼn rewolwer, wat in die 1970’s gekoop is, vorendag gebring en op haar seun geskiet,” lui die verklaring.

Die oorledene se vriendin (57) het glo die kamer binnegestorm waarna die bejaarde vrou die pistool op haar gerig het. “Die 57-jarige vrou het met die gewapende vrou gestoei, daarin geslaag om haar te ontwapen en die pistool in die hoek van die kamer te gooi.

“Blessing het daarna die tweede vuurwapen uit haar japon te voorskyn gebring, maar die man se vriendin kon weer daarin slaag om dit uit haar hande te stamp voordat sy gevlug en die polisie ontbied het.”

Die seun is deur polisielede dood in sy kamer aangetref. Hy het ʼn wond aan sy nek en ken gehad.

Blessing is in haar kamer aangetref en deur die polisie in hegtenis geneem. Sy het glo later aan polisielede gesê sy verdien die dood vir haar optrede.

Sy word benewens moord ook beskuldig van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Blessing is borgtog van $500 000 toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

linda ·

stilbly is ook seker ‘n antwoord
…………. die ding loop rond soos ‘n brulende leeu sien mense die groter prentjie
tyd is besig om uit to hol

lee ·

Ek wou eers begin lag toe ek die opskrif lees – VERSKOON MY ASB!
Maar ek kan nie anders as om BAIE JAMMER vir die ou tannie te voel nie.
Dit moes seker baie erg vir haar gevoel het toe sy verneem van haar seun se planne.
My Moeder is hierdie maand 6 jaar oorlede en ek onthou nog hoe ongelooflik moeilik die aanpassing vir haar ook was om ouetehuis toe te gaan..EK HET ONGELUKKIG NIE ‘n ANDER UITWEG GEHAD OP DAARDIE TYDSTIP NIE.
Ek hoop hulle begenadig die 92 jarige ou tante !!

Trudi ·

Haar seun was ook al ‘n 72 jarige hoogs bejaarde mens wat seker nie meer die krag vir haar gehad het nie. Ek voel jammer vir hom wat sy lewe verloor het.

Alida ·

Shoe daai tannie lyk gevaarlik hoor! Ek sou haar ook ouetehuis toe wou stuur.

Sandy ·

Sy lyk asof ‘n “piece of work” kan wees. Lyk na ‘n regte ou befoeterde ou tannie.

Heidi ·

Ai ouma en jou van is nogal Blessing! Toe was jy nie n blessing vir jou arme seun nie!

Swerkater ·

Ek dink sy het haar seun se hele lewe geneem sy lewe lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.