Vrou beboet oor Tour de France-ongeluk

Die toeskouer het destyds ʼn algehele opeenhoping van fietsryers veroorsaak toe sy met ʼn plakkaat in die pad gestaan het. (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/various sources/AFP)

Die toeskouer wat in Junie vanjaar ʼn groot ongeluk op die eerste dag van die Tour de France veroorsaak het, is Donderdag met €1 200 (sowat R21 660) beboet.

Die vrou het destyds ʼn algehele opeenhoping van fietsryers veroorsaak toe sy met ʼn plakkaat in die pad gestaan en die Duitse fietsryer Tony Martin laat val het. Sy is vier dae later in hegtenis geneem, maar haar identiteit word steeds weerhou nadat sy deur ’n stortvloed van kubermishandeling geteiken is.

Videomateriaal van die botsing en beseerde fietsryers het woede onder aanhangers en wedrenorganiseerders ontlok, veral toe hulle besef dat die vrou van die toneel gevlug het in plaas daarvan om hulp aan te bied.

Benewens die boete is sy ook deur die hof aangesê om een ​​simboliese euro aan die Franse professionele fietsryersvereniging te betaal, wat ’n eiser by die verhoor was.

Aanklaers het aanvanklik vir vier maande opgeskorte tronkstraf gevra op die aanklagte dat die vrou lewens in gevaar gestel en onbedoelde beserings veroorsaak het. Solenn Briand, aanklaer, het wel toegegee die toeskouer besef “hoe gevaarlik” haar gedrag was en ook dat sy berou toon.

Die toeskouer het self aan die hof gesê sy voel skaam oor haar “onnoselheid”. Die vrou, wat geen kriminele rekord het nie, het die opening van die fietswedren op 26 Junie bygewoon en gepoog om haar plakkaat op televisie te kry.

Die Duitse terme “Allez, Opi-Omi”, wat “Laat waai, oupa-ouma” in Afrikaans beteken, het op dié plakkaat verskyn. Haar Duitssprekende grootouers is glo groot aanhangers van Tour de France. Sy het egter te ver in die pad getree en veroorsaak dat talle fietsryers neerploeg.

Die Duitser Jasha Sütterlin moes hom weens ʼn besering onttrek terwyl agt ander jaers mediese behandeling moes ontvang. Die Italiaanse kampioen Sonny Colbrelli en die Nederlandse jaer Wout van Aert, wat albei ook neergeslaan het, was van die gunstelinge om die eerste skof te wen.

Die Duitse fietsryer Tony Martin kon nie vermy om teen haar te stamp nie en het geval, wat veroorsaak het dat dosyne jaers in ʼn ongeluk betrokke was terwyl ander tussen die skare omstanders ingeswaai het. Verskeie jaers moes aan die wedren onttrek, onder wie Spanje se Marc Soler wat albei arms gebreek het.

Die vrou se prokureur, Julien Bradmetz, het gesê sy kliënt het al “vir baie jare ’n brose persoonlikheid”. Christian Prudhomme, direkteur van Tour de France, het in Oktober vanjaar ’n versoenende standpunt ingeneem. “Sy het iets dom gedoen; sy is nie ʼn terroris nie. Ons wil net hê mense moet versigtig wees wanneer hulle die wedren bywoon en onthou dat hulle daar is om die kampioene te sien en nie om op televisie te kom nie,” het hy aan verslaggewers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Herman ·

“Het al vir jare n brose persoonlikheid” wat n klomp snert. So jy kan droogmaak en net dit se.

Realis Thailand ·

Altyd n sielkundige probleem . Maar as jy haar voor die tyd konfronteer daarmee sal sy dreig om n eis teen jou in te stel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.