Vrou beken skuld vir marteling van, moord op twee kinders

Argieffoto

ʼn Vrou van Kalifornië het vandeesweek skuldig gepleit op aanklagte van die marteling van en die moord op ʼn sesjarige seuntjie en driejarige dogtertjie van dié Amerikaanse deelstaat.

CBS berig Tami Joy Huntsman (42) het glo ʼn ooreenkoms met staatsaanklaers aangegaan om eerder lewenslange tronkstraf sonder parool in plaas van die doodstraf opgelê te word.

Berkley Brannon, ʼn staatsaanklaer in die saak, het aan die nuuswebwerf gesê Huntsman sal “doodgaan in die tronk”.

Huntsman en haar kêrel, Gonzalo Curiel, is in Desember 2015 in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn uitgehongerde en erg mishandelde toe negejarige dogtertjie in ʼn verlate motor in Kalifornië aangetref het.

Volgens hofstukke was die negejarige dogtertjie en haar sesjarige boetie en driejarige sussie in die sorg van Huntsman geplaas nadat hulle ma in ʼn motorongeluk dood is en hul pa tronkstraf opgelê is.

Huntsman het erken dat sy en Curiel die ses- en driejarige aangerand, uitgehonger en vermoor het. Sy het hul liggame in plastieksakke toegedraai en in ʼn skeepsvraghouer gestort.

Die ooreenkoms tussen Huntsman en die aanklaers bepaal dat die oudste dogtertjie nie in die hof hoef te getuig nie.

Curiel was 17 toe die moorde plaasgevind het, en het nie in aanmerking vir die doodstraf gekom nie. Twee aanklagte van moord en twee van aanranding staar hom nou in die gesig. Hy sal weer op 2 April in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zulu ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mense sulke dinge aan onskuldige weerlose kinders kan doen?????

Stan ·

Hoe op dees aarde plaas jy kinders in pleegsorg en volg dit nie met huisbesoeke op nie. Groot vraagteken agter Amerikaanse welsynsorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.