Vrou dood ná selfaangedrewe motor haar tref

Foto: Pixabay

ʼn Selfaangedrewe motor van die huurmotordiens Uber het vandeesweek die lewe van ʼn vrou van die Amerikaanse deelstaat Arizona geëis toe die motor in haar vasgery het.

Volgens die polisie in Arizona was die vrou glo besig om die pad oor te steek toe die motor haar getref het. Sy is later in die hospitaal dood.

The Guardian het die vrou as die 49-jarige Elaine Herzberg geïdentifiseer. Volgens dié nuuswebwerf is daar geen tekens dat die motor spoed verminder het voordat dit uiteindelik vir Herzberg getref het nie.

Uber het dié voorval op sosiale media bevestig. “Ons harte gaan uit na die familie van die slagoffer. Ons gee ons volle samewerking aan die plaaslike owerhede met hul ondersoek na die voorval,” het die huurmotordiens geskryf.

Die maatskappy het ook bevestig dat hy die produksie van sy selfaangedrewe motors in Phoenix, Pittsburgh, San Francisco en Toronto tydelik staak.

Uber toets al vir die afgelope paar jaar sy selfaangedrewe motors in verskeie Amerikaanse state en het verlede jaar óók sy bedrywighede in Arizona tydelik gestaak ná ʼn ongeluk waarin niemand dood is nie. Die selfaangedrewe motors is ook al op kamera vasgevang waar hulle oor rooi ligte ry.

Dit is die eerste noodlottige geval wat in verband met Uber se selfaangedrewe motors bekend is.

Dit is nie die eerste opspraakwekkende geval waarin ʼn selfaangedrewe motor betrokke is nie. In 2016 het ʼn Tesla-motor die lewe van ʼn bestuurder geëis nadat die motor in ʼn vragmotor ingeploeg het omdat die rekenaarsisteem se kunsmatige intelligensie nié die bewegende vragmotor opgemerk het nie.

Talle ander ongelukke – van beide Uber en Tesla – is ook al aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DS ·

“What can go wrong?”…. maar dink nog steeds dis veiliger om in selfaangedrewe voertuig te klim as in ‘n taxi in Suid-Afrika.

christa ·

die men is ‘n snaakse wese. Hy wil net beter en beter. Gaan hulle nie maan toe nie, kloon hulle mense en dier of word motors vervaardig wat self aangedrewe is, Die Here alleen is magtig en net Hy kan wonderwerke doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.