Vrou doodgeskiet ná sy geldsukses op FB verklap

Makeva Jenkins. Foto: Facebook

ʼn Ma van drie kinders is doodgeskiet minder as ʼn dag nadat sy in ʼn inskrywing op Facebook vertel het van die finansiële sukses wat sy oor die afgelope paar jaar bereik het.

CBS 12 berig Makeva Jenkins (33) is Donderdag in die vroeë oggendure in haar huis in Lake Worth in Florida in die VSA geskiet. Volgens die nuusagentskap het die moordenaar vermoedelik omstreeks 02:00 aan Jenkins se deur geklop en haar in die kop geskiet. Die aanvaller het in Jenkins se motor gevlug wat later ʼn kort afstand weg van die huis verlate gevind is.

Jenkins is na ʼn hospitaal gehaas, maar is ure later dood. Sy was getroud en die ma van drie kinders, onderskeidelik 1, 7 en 13 jaar oud.

Jenkins het net ure voor haar moord in ʼn inskrywing op Facebook vertel hoe sy oor die afgelope paar jaar gevorder het van hawelose tot suksesvolle sake-eienaar. In die inskrywing vertel sy hoe sy in 2011 ʼn kursus oor finansiële bestuur wou bywoon, maar nie die $99-fooi (ongeveer R1300) kon bekostig nie.

“Ons het haweloos geword in 2013-’14 en in 2015 het ek my ses-syfer-teiken bereik tot nou waar ek multi-ses-syfers verdien. Maak nie saak hoe die pad vorentoe gelyk het nie, ek het my hart gevolg en vasgebyt om my besigheid te laat groei,” het Jenkins geskryf. “Ek sê dít om te wys enigiemand kan dit doen. Dit verg konsekwentheid en toewyding.”

Die Palm Beach Post berig Jenkins se familie is bekommerd dat die inskrywing moontlik tot haar moord gelei het. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie en die polisie het enigiemand met meer inligting gevra om na vore te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Wanda ·

Ek weet nie eintlik wat is vir ons nuuswaardig van ander lande se misdaad, ons het genoeg misdaad om nog ander lande sin ook te lees.

Sandra ·

Wanda ek dink dit is ook eerder om mense te waarsku oor wat jy plaas op FB. maar dit maak ook nie vier my sin wie sou nou eintlik kon baat in haar sukses. dis nie asof sy die geld tuis gehou is nie. maar ja n mens weet nooit.

Juffie ·

Hi ek dink dit is maar om ons net te laat besef dat die hele wêreld is vrot van korrupsie, misdaad, geweld, hebsug en wat nog. Dis nie dat “two wrongs a right ” maak nie maar ek kry soms die idee dat ons mense dink dis net in SA wat al hierdie euwels is

lynni ·

Ek dink weer dis goed maroela plaas sulke berigte. Party dinge moet mens vir jouself hou.

Ander Annie ·

Kobus V, skerp. Ek gaan die woord “vleisboek” onthou. Dis hoekom ek vleisboek maar min besoek. ……….onder draai die duiwel rond.

Hannes ·

Ander Annie hoekom los jy dan nie sommer heeltemal die vleisboek nie?

Lollie ·

Nee Wanda dit wys jou net die mense moet leer om nie al hulle persoonlike goed aan die wêreld te verkondig op fb nie! Ek sien van my eie familie, as hulle kar koop moet dit op fb, as hulle met vakansie gaan moet dit op fb, as hulle aanbouings gedoen het moet dit op fb ens ens ens …….. Almal moet alles van hulle dinge af weet! Dis nie net vriende wat dan al daardie dinge weet nie maar die hele wêreld! As jy met alles wat jy het of vermag wil ‘brag ‘ dra dan maar die gevolge! Mense maak van fb ń euwel

Boeremeisie ·

Maar waar is daar enige bewyse dat dit met Facebook verband hou anders as pure spekulasie van die familie.

Marinda ·

Boeremeisie, het erens ñ artikel gesien oor mense wat slagoffers was van geweld of misdaad na hulle op Vleisboek oor hulle “weelde” of “rykdom” gespog het. Weet ook van mense wat inbrake gehad het, juis ñ paar dae of weke na hulle fotos op Vleisboek geplaas het oor iets wat hulle gedoen het in hulle huise of op hulle eiendom. Beste is hou jou lewe privaat. Don’t make yourself a target.

Pik ·

Dink dit is goed dat ons sien ander lande sit met selfde probleem vir die wat heeldag wil oppak en vlug

Freddie Whitehorn ·

“Konsekwent wees”? Is dit die groot geheim wat jou dood kan veroorsaak?

Ashlee ·

Juffie, natuurlik het enige land ook n doodsklok wat soms lui. Hier in ons kleine land raak daardie klok egter nooit stil nie, en bygese, die wreedheid van ons luiende klok, asook die regering se skouer optrek hieroor staan kop en skouers uit bo enige land.

janneman ·

Blote toeval…???Miskien ja…..soos ek driejaar trug ge post het op gesigboek ek dank die Here vir 35 jaar opi langpad sonder enige ongeluk…net om 6 ure later in ‘n hospitaal wakker te skrik a.g.v ‘n kop aan kop botsing…laat mens dink neh…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.