Vrou in Duitse hof ná moord op gestremdes

(Argieffoto: Unsplash)

Die verhoor van ʼn werknemer van ʼn tehuis vir gestremdes in Duitsland wat daarvan beskuldig word dat sy vier inwoners wreedaardig vermoor het, het Dinsdag begin.

Die vrou, bekend as Ines Andrea R. (52), staan tereg op vier aanklagte van moord en drie aanklagte van poging tot moord ná die sogenaamde bloedbad by die Thusnelda-von-Saldern-Haus-fasiliteit in Potsdam, naby Berlyn, vroeër vanjaar.

Die vrou het na bewering in April twee mans en twee vroue tussen die ouderdom van 31 en 56 jaar oud met ʼn mes in hul kamers doodgesteek.

Sy het glo ook probeer om twee ander inwoners te vermoor, terwyl ʼn ander vrou ernstig beseer is.

Volgens owerhede is die slagoffers aan “verskriklike geweld” onderwerp.

Altesame 100 polisiebeamptes was destyds betrokke by die herwinning van bewyse op die toneel.

Die vrou is kort ná die voorval onder psigiatriese toesig geplaas omdat daar glo talle bewyse is dat sy aan ʼn ernstige geestesversteuring ly.

Die tehuis word deur die Lutherse Kerk se maatskaplike welsynsdiens bestuur wat daarin spesialiseer om hulp aan diegene met fisieke en geestelike gestremdhede te verleen.

Sowat 65 mense word in die tehuis gehuisves met meer as 80 werknemers.

Dit is egter nie die eerste keer dat ʼn voorval van dié aard by ʼn inrigting vir geestesgesondheid of ʼn tehuis vir gestremdes in Duitsland plaasvind nie.

In 2019 is ʼn verpleër, Niels Högel, tronkstraf opgelê nadat hy 85 pasiënte in sy sorg vermoor het. Hy is sedertdien as een van die berugste reeksmoordenaars in Duitsland bestempel.

Verlede jaar is ʼn Poolse gesondheidswerker lewenslange tronkstraf in München opgelê nadat dié minstens drie mense met insulien vermoor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charl ·

Hemel die wereld is ‘n siek plek, g’n wonder tekens van die eindtyd is reeds sigbaar nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.