Vrou in hegtenis oor Tour de France-ongeluk

(Foto: Anne-Christine POUJOULAT/various sources/AFP)

Die toeskouer wat ʼn groot ongeluk op die eerste dag van die Tour de France veroorsaak het, is in hegtenis geneem, het ʼn bron naby aan die ondersoek Woensdag gesê.

“Die vrou is formeel geïdentifiseer en is ʼn paar minute gelede in hegtenis geneem,” het die bron aan AFP gesê ná die staatsaanklaer vir die stad Brest in Brittany, Camille Miansoni, gesê het “die verdagte is in aanhouding”.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vrou het met ʼn plakkaat in die pad tussen Brest en Landerneau gestaan en die Duitse fietsryer Tony Martin laat val. Dosyne fietsryers agter hom het toe ook geval. Die ongeluk het die wedren vir vyf minute lank opgehou terwyl fietse uitmekaar gehaal moes word. Die Duitser Jasha Sütterlin moes hom weens ʼn besering onttrek. Agt ander jaers moes mediese behandeling ontvang. Die Italiaanse kampioen Sonny Colbrelli en die Nederlandse jaer Wout van Aert, wat albei ook neergeslaan het, was van die gunstelinge om die eerste skof te wen.

Die Tour de France-wedren, met ʼn afstand van 3 414,4 km, duur nog tot 18 Julie voort.

Die verdedigende kampioen Tadej Pogacar het Woensdag voortgestorm in die individuele tydtoetse terwyl Mathieu van der Poel nog algeheel voorloop ná die vyfde skof. Van der Poel behou dus sy geeltrui met agt sekondes. Pogacar is nou in die tweede plek algeheel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

pompies ·

Sy het nie n foto geneem nie sy het n plakaat vas gehou, en ek neem aan dit was om oor iets te protesteer. Dit was in die vorige berig so gestel.

Niklaas ·

Klink asof die vrou met plakaat geprotesteer het , daar is mos altyd diesulkes . Gevaarlike situasie is so geskep. Sy het meer media aandag gekry as wat beplan was.

Snowball ·

Die vrou se plakkaat het gelees : “Allez Opi Omi.” Wat beteken “Gaan vir dit Oupa en Ouma.” So sy het iemand aangemoedig, nie protesteer nie, maar sy was nietemin effe simpel om so ‘n katastrofe te veroorsaak.

kolonel ·

Gaan kyk die video. Hy het reguit in die plakkaat vasgery – en kon nie uitswaai nie – want raai wat, daar was ‘n hele pad vol ouens op fietse links van hom.

AH ·

Dit is duidelik dat jy nie die nuus of die video van die insident gekyk het nie. Die vrou het ‘n gevaarlike situasie veroorsaak en behoort gestraf te word vir haar onnosele optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.