Vrou kry verkeerde baba ná ‘fout’ met IVB

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Christian Bowen/Unsplash)

’n Amerikaanse egpaar dagvaar ’n vrugbaarheidskliniek nadat ’n verkeerde embrio na bewering by dié kliniek ingeplant is en die vrou eindelik geboorte aan vreemdelinge se baba gegee het.

Toe Daphna en Alexander Cardinale van Kalifornië hul pasgebore baba, wat deur middel van in vitro-bevrugting (IVB) verwek is, vir die eerste keer sien, het hulle opgemerk dat die babadogtertjie swart hare en ’n baie donkerder gelaatskleur as enigiemand in hul familie het.

’n DNS-toets het byna twee maande later bevestig dat die dogtertjie, wat in September 2019 gebore is, nie aan een van hulle verwant is nie en dat hulle dus ’n ander egpaar se kind grootmaak.

Prokureurs in Los Angeles sê nou twee laboratoriums, wat met een dokter verbind word, het die embrio’s van twee heeltemal afsonderlike paartjies omgeruil en dit by die verkeerde vroue ingeplant.

Die paartjies het uiteindelik byeengekom en kon met behulp van die howe toesig oor hul biologiese kinders verkry. Die babadogtertjies was in daardie stadium reeds sowat vier maande oud.

“Die oomblik toe ons […] dogter gebore is, moes van die gelukkigstes in my lewe gewees het,” vertel Alexander. “Maar ek het dadelik verward gevoel oor hoekom ek haar nie herken nie.

“Toe die waarheid aan die lig kom, het dit die omruil van die kinders des te meer hartverskeurend gemaak.”

Die twee dogtertjies is ’n week uiteen gebore.

“Om die geboortekind wat jy ken te verloor vir die genetiese kind wat jy nog nie ken nie [is] ’n werklik onmoontlike nagmerrie,” vertel Alexander.

Die egpaar eis nou vergoeding vir emosionele, finansiële én eiendomskade, sê die prokureursfirma Peiffer Wolf Carr Kane & Conway.

IVB-behandeling behels die kombinering en kweek van die sperm en eiersel in ’n laboratoriumomgewing, voordat die bevrugte embrio in die vrou se baarmoeder ingeplant word.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Kry almal betrokke jammer en kan regtig nie ‘n maklike situasie wees nie. Maar eerder nou uitvind as jare later en dis veel erger glo ek

Toy ·

Dit is ‘n traumatiese ervaring vir die ouers. Die dr kan mos nou nie sulke foute maak nie, sit jou in ‘n ander se skoene dan sal jy verstaan hoekom dit onaanvaarbaar is en traumaties.

Belinda ·

Hoop hulle gaan die 2 as “sussies” groot maak.
Hartseer maar ook maar beter dat dit nog in die vroee stadium gebeur het. Ek kan nie myself indink hoe verwar mens moet voel nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.